"Die Rooi Ateljee" 1911 Olie op Doek 162cm x 130cm (64" x 51") MOMA New York. |
DIE ROOI ATELJEE 1908-9 is
‘n komplekse werk wat op die oog af eenvoudig voorkom. Die raaisels daarin lei
die toeskouer tot kontemplasie oor die proses van kunsmaak. Dit vertel die toeskouer dat 'n skilder op 'n plat vlak werk. Dis in hierdie tyd wat kunstenaars begin rebelleer het teen die klassieke werke van vorige eeue waar mens "diep" in 'n prent kon inkyk, asof voor 'n oop venster! Totsiens, reels en perspektief, sagter kleur na agter en al die ou dinge, kuns word vars en nuut in die 20ste eeu. Die Impressioniste, Van Gogh en Gauguin se werke lei tot die nuwe avonture in kuns, ook bekend as Modernisme.
Die
rooi kleur is in ‘n gladde vlak sonder variasie neegelê, wat die
tweedimensionaliteit beklemtoon. Die muur en die vloer, ver en naby het byvoorbeeld dieselfde intensiteit. Die rooi kleur skyn ook deur die meubels wat grafies
uitgebeeld is om alles na een vlak te trek Die weglaat van die hoek van die kamer
dra verder tot die plat effek by.
Die
afbeeldings van Matisse se eie skilderye lyk of dit op die werk geplak is, en
is ‘n prototipe van collage wat die vlak nog platter laat vertoon. Die skildery-binne-‘n-skildery is so geplaas
dat dit paradoksaal ook ‘n deur kan wees waardeur ‘n figuur in ‘n ander vertrek gesien
kan word. Die ander skilderye en leë rame is ook metafore vir vensters.
Matisse
wys in hierdie werk ook volledig sy betrokkenheid by die proses van kunsmaak.
Eerstens is die vertrek ‘n ateljee. Skilderye, ‘n leë raam en keramiekstukke op
die tafel toon sy eie kuns. Daar is ‘n verwysing na sy figure met dekoratiewe agtergronde. Die arabeske van die plante verwys na
Art Nouveau en vase verteenwoordig die klassieke kuns. Op die tafel lê ‘n pak
potlode wat is ‘n slim parodie op die gelyntekende meubels in die skildery is.
DIE ROOI ATELJEE wys
nie slegs na die tweedimensionele vlak en na die proses van kunsmaak nie.
Matisse gee hier ook uiting aan ‘n ekspressie van tyd en ruimte. Die klein
ruimte van die visbakkie word ‘n metafoor vir die ruimte van die vertrek en die
vertrek simboliseer weer die wyer ruimte daarbuite. Dit is een van die redes
waarom Matisse gewoonlik ‘n venster of ‘n verwysing na vensters in sy werk het.
Die plante in die kamer kring weereens uit na groter ruimtes deur na die plante
in die natuur te wys.
Het julle die onderskrifte onder die foto gelees? Dis 'n heerlike groot werk. Ek weet nie of die volgende foto, op die Internet gevind, 'n afdruk of die werklike skildery wys nie, maar dit gee 'n wonderlike gevoel van die grootte van die werk. Laat dit jou ook voel of jy met kloppende hart daar staan?
Ek het baie heerlike voorbeelde van Matisse se speelse dubbelsinnigheid raakgeloop, en gaan volgende keer baie daarvan wys.