Wednesday, October 15, 2014

'n Vergelyking


Ekspressie kan ‘n uitdrukking van vreugde, rustigheid en gemak  weergee. Of die kunstenaar kan ‘n donker en somber ekspressie skep. Lyn, vorm, kleur, en diepte is almal elemente wat ‘n rol speel.

Twee groot werke word hier bespreek en is goeie voorbeelde van die verskillende vorms wat ekspressie kan aanneem. Die werke is “Bonheur de Vivre” van Matisse en “Demoiselles D’Avignon” van Picasso. (dit word “dȇmo-sel da-vie-nô uitgespreek)


Bonheur de Vivre - Matisse
1905 - 6  Olie op doek
240.5cm x 176.5cm
Barnes Foundation, Philapelphia, Pennsylvania

Desmoiselles D'Avignon - Picasso 2007
Olie op doek 243.9cm x 233.7cm
Museum of Modern Art, New York


Albei skilderye toon ‘n toneelagtige opset. Matisse se figure is egter klein en verspreid soos op ‘n balletverhoog, wat die vreedsaamheid van die toneel aanhelp. Die diep ruimte laat die toeskouer vry voel. Picasso se figure, daarenteen, vul die formaat en is baie nader aan die toeskouer, waarmee hy ‘n meer intieme kabaret en sterker emosie uitbeeld. Kyk hoe dit amper ‘n klein verhoog met gordyne voorstel. Alhoewel albei kunstenaars na die aanskoue van Cèzanne se Groot Baaiers 1906 besluit het om hierdie werke te skep, bewys hulle dat hulle sterk style het, en volg hulle hulle eie rigting.

Matisse se Bonheur de Vivre gee “die goeie lewe” weer, terwyl die hoekige styfingedrukte vorms van Picasso se Desmoiselles D’ Avignon streng en vol voorbode vertoon (soepel lyne vir geluk, skerp, puntige lyne vir bedreiging) In Matisse se skilderye word die vrolike Bachanale van Poussin, Ingres en Puvis de Chavannes opgeroep. Die toeskouer voel self lus om daardie wereld van vrye liefde en rustigheid binne te tree. Die vroue se rondings en sensualiteit word beklemtoon.

Picasso se skildery trek weer inspirasie uit Afrika- en Iberiese maskers en beelde en El Greco altaarstukke. Matisse skilder ‘n idilliese paradys-wêreld, terwyl Picasso hier kyk na die kontemporêre probleem van prostitusie. Daar word beweer dat die werk ‘n reaksie op Matisse se Bonheur de Vivre was. Die toeskouer word aangegluur en daar is ook geen spasie gelaat nie, dus is mens beslis nie lus om daar in te gaan nie. Die “jongemeisies van Avignon” is nie vroulik nie, en ook nie mooi nie, maar eerder “savage” Die twee regs dra selfs Afrika maskers. Die twee middelstes poseer sonder enige gevoel of emosie in hulle gesigte. Die meisie heel links met donker Afrika gelaat lyk total onbelangstellend.

Dis ook belangrik om na die kleure te kyk en te besluit watter ekspressie hulle oordra. In die jare wat ek studeer het, was daar slegs swart/wit afdrukke van Bonheur de Vivre beskikbaar vanwee beperkings deur die eienaars, die Barnes Foundation. Nou sien ons dit gelukkig in die vrolike kleure met baie kleurkontraste wat geluk simboliseer. Desmoiselles D’Avignon, daarenteen is in grysblou en vleespienk kleure geskilder.wat nie baie diepte aan die komposisie verleen nie. Die baie pienk beklemtoon die oormaat van naaktheid. 

Hierna wy Picasso hom vir baie jare aan die vraagstukke van die prentvlak en formele oorwegings soos in sy Kubistiese fase. Hierdie is baanbrekerswerk  en die begin van vernuwinge in kuns. Picasso is ‘n groot genie van die Twintigste eeu. Sy werke is dikwels die voorloper van nuwe rigtings, beide formalisties en ekspressionisties. Hier is die bordjie vrugte alreeds 'n mini Kubustiese skilderytjie.

‘n Punt wat nie ignoreer kan word nie, is die verskille in nasionaliteit van die twee skilders. Matisse is die Fransman met liefde vir die goeie lewe en sy kuns-wortels in die kleurvolle Fauvisme. Picasso se Katalaanse karaktertrekke lei hom na dieper gevoel en voorbode, wat meer met Rouault se werk verband hou.Matisse gaan hierna voort om gemak voor te stel en aan vrede en geluk ekspressie te gee. Hier is sy bekende “leunstoel gesegde”:

“What I dream of is an art of balance, of purity and serenity devoid of troubling or depressing subject matter - a soothing, calming influence on the mind, rather like a good armchair which provides relaxation from physical fatigue.” Henri Matisse
Kopiereg Marie Theron 2014.



4 comments: