Showing posts with label Afrikaanse kuns notas. Show all posts
Showing posts with label Afrikaanse kuns notas. Show all posts

Thursday, July 16, 2015

Die Invloed van Primitivisme op Ekspressionisme

Die wonder van ekspressionisme was dat kunstenaars baie sterk begin rondkyk het na alle kunsvorms wat ekspressie kon weergee. Die soeke was nie bekend in vorige eeue nie, toe die opleiding streng klassiek was en ‘n student geskilder het wat hy sien, sonder verwringing. (immer die beste basis vir kuns, alhoewel mens later kan eksperimenteer) Ek het die volgende bronne isoleer waar kunstenaars soos Die Fauves, Picasso en die Duitse Ekspressioniste, onder andere, na primitivisme begin kyk het vir inspirasie.

1. AFRIKA KUNS 

Picasso vrou en Wes Afrika masker

                                                                 This 19th-century Fang mask is similar in style to what Picasso 
      encountered in Paris just prior to Les Demoiselles d'Avignon.
Afrika Kuns staan bo-aan die lys. Soos wat die Trocadero gevul wat met Afrika maskers, het kunstenaars soos Picasso die skerp geagiteerde lyne begin waarneem, en die sterk emosie wat agter Afrika kuns skuil begin vertolk. Picasso, Matisse en baie ander kunstenaars het ook self sulke maskers aangeskaf om in hulle ateljees te hang. 

1. 2. DIE PRIMITIEWE (natuurlike) LEEFWYSE 

    Om na eilande en eksotiese plekke te gaan, was deel van die bekoring van primitivisme. Gauguin se lewe was ‘n goeie voorbeeld hiervan want soos hy selfs die leefwyse van die Polinisiese eilande aangeneem het, het hy wonderlike temas vir sy kuns bekom. Later het van die kunstenaars soos Kirchner, Smidt-Rotluff en Pechstein en ander lede van Die Brücke op uitstappies elke somer na die mere van St Moritzburg gegaan en ‘n boheemse leefwyse gelei. Hier het hulle nudisme beoefen en so natuurlik moontlik gelewe en hulle kuns geskep. Dit was in lyn met ‘n kultus van nudisme wat in Duitsland aan die ontwikkel was. Waarin lê die waarde van so ‘n leefstyl? Die lesse wat daaruit geleer was, was dat mens nie soos in die Westerse wêreld ‘n “front” hoef op te hou nie. Hulle leefwyse daar was ‘n vorm van kritiek op kapitalisme en al die voorskrifte van die Europese lewe. En ja, pragtige kuns het daaruit gevloei wat nie sonder die primitiewe leefwyse sou gebeur het nie! In hulle werke gebruik hulle oordrewe kleure, bv geel-oranje liggame om met blou-groen water te kontrasteer en tonele wat aan 'n paradyslike bestaan herinner.


                                                         Karl Schmidt-Rottluff 1884–1976
Title
Two Women
Zwei Frauen
Date1912
MediumOil paint on canvas
DimensionsSupport: 765 x 845 mm
frame: 912 x 950 x 64 mm
Collection
Tate

Pechstein: The Killing of the Banquet Roast


   3. PRIMITIEF-NAIëWE KUNS

Meester van sy eie kraal was  Henri Rousseau. Hy het geen akedemiese opleiding gehad nie, maar net geskilder uit sy eie verbeelding. Dis besonders watter dekoratiewe vorms en lynwerk, uitstekende tonale waarde en diep gevoel van misterie hy geskep het. Rousseau was gerespekteer deur die kunstenaars van sy tyd!  Sy vreemde woorde aan Picasso word goed onthou!

"You and I," said Henri Rousseau, sincerely addressing his host Pablo Picasso, "are the two most important artists of the age - you in the Egyptian style, and I in the modern one."

The Snake Charmer by Henri Rousseau

4. KINDERKUNS

Met die belangstelling in die psigo-analise word daar in die twintigste eeu met nuwe oë na kinderkuns gekyk. Die digter Baudilaire beskryf genialiteit as  die “willekeurige herwinning van kindwees” In kinderkuns het die naiëwe weergawe van die buitelyn of basiese vorm ook dikwels die vermoë om innerlike waarhede te ontbloot. Die kind beplan dit nie en bereik dus onkorrupte ekspressie. Kinders skep direk uit hulle eie ervaring en sonder idealisering. Ekspressionistiese kunstenaars probeer soos kinders die vermoë ontwikkel om met ‘n ongekompliseerde tegniek enorme krag uit te straal. Ingekrabbelde agtergronde, onvoltooid- of oorvoltooidheid, die onmiddelikheid wat verkry word deur te skilder sonder voorbereiding, en die ontbreking van chiaroscuro word vir die kunstenaars van die twintigste eeu waardevolle elemente tot ekspressie. In PIENK UIE 1906 toon Matisse ‘n doelbewuste onbeholpenheid  Om notisie te neem van kinderkuns was so belangrik vir die ontwikkeling van  20ste eeuse Ekspressionisme. Ons lees die spoor van kinderkuns in die speelsheid van Picasso, die soek na vorm by Rouault, die onskuld en skoon kleure van Marc, die agiterende, soms woedende vorms van Nolde, die amper outomatiese leef in die werk in van Pollock, en die onvermengde kleure van baie 20ste eeuse kunstenaars.



   5. IMAGES d’EPINAL

Images d’ Epinal was n tipe volkskuns sinoniem met die Franse : dit was afdrukke,  etse en rowwe houtafdrukke in hulle naiëwe uitvoering was ook met die hand ingekleur. Die temas was meesal patrioties of moralisties van aard byvoorbeeld fabels, geskiedenis van Napoleon, ensovoorts. Dit was tipiese populêre “kitsch” en het in baie huise gehang, ‘n ekwiwalent van Middeleeuse houtsneewerk.  Die blote feit dat kunstenaars daarvan notisie geneem het, was ‘n moderne neiging. Binne etlike jare het koerante, buskaartjies, teaterprogramme en goedkoop linoleum ook  as inspirasie vir kunstenaars begin dien. Die belang hiervan lê daarin dat historiese taferele en Griekse legendes plek gemaak het vir waarneming van die eie tyd.



 Die alledaagse lewe wemel van idees vir ekspressionisme! Daarby gee dit later ook ‘n goeie beeld van die kunstenaar se tyd waarin hy lewe, weer.


Die blote feit dat kunstenaars daarvan notisie geneem het, asook van alle vorms van primitivisme, was ‘n moderne neiging. Dit staan by alle ander invloede as 'n fondasie vir ekspressionisme!







Saturday, March 21, 2015

Matisse: Patroon op Patroon

Matisse se vroue is gemaklik en rustig en hy gee 'n universele siening van vroue weer wat bereikbaar is vir die toeskouer. In die twintigerjare ontspan Matisse tydelik die vereenvoudiging van die prentvlak. Sy vrouefigure word volmetries in plaas van vlak uitgebeeld. Die struktuur en chiaroscuro van CARMELINA word weer gebruik in TWEE VROUE IN ‘N BINNERUIM 1920 en in VROU MET ‘N GOUDVISSIE 1921 asook ‘n reeks odeliskes, sommige in die grafiese media en ander in olieverf.

Kom ons verlustig ons vereers in die kleurvolle uitbeeldings van vroue deur Matisse. Hier is 'n kunstenaar wat hou van vereenvoudiging, maar terselfdertyd versot is op patrone veral die wat in tekstiele, binneversiering en klere gesien word.

Henri Matisse. The Algerian Woman. 1909. Oil on canvas. 
Musee National d'Art Moderne, Centre Georges Pompidou, Paris, ...

Matisse, Odalisque in Yellow Robe - 1937





Kom ons bespreek vir oulaas een van hierdie werke van die 1920's, uit die tyd voordat Matisse tot sy groot vereenvoudiging oorgegaan het. DIE MOORSE SKERM 1921 is weereens ‘n groot werk en som Matisse se belangstelling in die twintigerjare op. Die prentvlak is vervlak sodat alles na vore tilt. Die meisies is egter volumetries uitgebeeld en ons word weereens bewus van raaisel en paradoks in die werk. Daar is baie teksture en dit bevredig Matisse periodieke onversadigbare liefde vir ingewikkelde oosterse ontwerpe. Die patone van die oosterse matte, die moorse skerm en die muurpapier kry verdere kompetisie van die blomme en die traliewerk in die kamer. Mens mag dalk veronderstel dat Matise wat dikwels Marocco besoek het, van hierdie matte en tekstiele na Nice geneem het.

Matisse 1921. Die Moorse Skerm Olie op Doek.
 Philidelphia Kunsmuseum
Die veelvuldige ontwerpe vorm ‘n kontras met die meisies wat vars in spierwit rokke, kouse en skoene vertoon . Hiermee lê Matisse ook vir ons die lewenslustige gees van die twintigerjare vas. Die kortgeknipte haarstyle , lang krale, korter rokke en hoëhakskoene dokumenteer verder die era waarin die werk geskilder is. In 'n volgende hoofstuk kan ons kyk na die verandering in Matisse se werk na 1932, wanneer hy ons gaan boei met van die mooiste vereenvoudigings in kuns, en prente met universele bekoring.

Thursday, February 19, 2015

Matisse en die Ekspressie van Gemak

As mens dink aan Matisse, voel jy amper hoe die spanning van jou afrol. Ekspressie is daar, maar dis 'n ekspressie van kalmte. Hy bereik vir my 'n hoogtepunt daarmee in Die Arabiese Kafee. Soos baie van sy voorgangers, (Delacroix, Renoir) het Matisse graag Tangiers in Marocco besoek. Ek raai aan sy werk van luierende "odalisques" en rustige gange en vertrekke dat juis die stadiger pas van hierdie Afrika/Arabiese land 'n invloed op Matisse gehad het. Kom ons kyk na hierdie pragtige missie wat hy vir homself in kuns gestel het: 

What I dream of is an art of balance, of purity and serenity devoid of troubling or depressing subject matter - a soothing, calming influence on the mind, rather like a good armchair which provides relaxation from physical fatigue.
(Met dank aan brainyquote.com)

Die Arabiese Kafee 1912 -13
Olie op doek
210cm x 176cm
Hermitage Museum
In ARABIESE KAFEE 1913 met sy blou atmosfeer gee hy aan kleur ‘n eie ekspressionistiese stem.. Die monochroom veld wat die tweedimensionele vlak bevorder bou voort op die idee van DIE ROOI ATELJEE waar vloere en mure èèn word en dadelik die perspektief (en so die idee van drie-dimensionaliteit) teenwerk. In ARABIESE KAFEE word die blou kleur ook op die figure gebruik. Die atmosfiese blou lig dematerialiseer die figure. Daar is geen chiaroscuro, detail of modellering wat die oppervlak versteur nie. Die blou aura om die figure gee ‘n Cèzanne-agtige passage

ARABIESE KAFEE is soos baie van Matisse se werk suggestief van die oorpeinsing en ‘n byna voorwêreldse stilte.  Die arabiere staar na die visse wie se blou wêreldjie waarin hulle sweef ‘n metafoor vir die blou kamer is en dìt weer van die wyer blou universele  ruimte.. Die arabiere hier het geen tydsbegrip nie en lê in die foetusposisie, ‘n metafoor vir hulle getransformeerde staat waarin hede en verlede èèn word ( Bersoniese filosofie)

Matisse skilder ‘n raam om die werk, maar nie dìt òf die hoë Moorse boë in die agtergrond slaag daarin om die vertrek te anker nie,  wat moontlik ook die effek van opium ook kan suggereer.

Aan die leser: Die notas kom uit werk wat ek in die 1980's vir myself gedoen het, met die naam Kuns in Kompartemente:  I Die Ekspressionistiese tradisie in Twintigste Eeuse Kuns. Tipies van my optimisme wat met my weghardloop, het ek nog 5 of 6 tradisies opgesom om oor te skryf. Heerlike dae van navorsing in Die Universiteit van Natal se Durban-kampus argiewe was gevolg deur nagtelike asma en jeukende vel en oe, van die stof en miete wat uit 1950s tydskrifte gekom het, maar nouja, ons het verhuis na die Kaap , en die taak het bly staan! Met die oordra van komper na komper en program na program, het die font net absoluut sy eie wil. Dis waarom hier soveel font-tipes verskyn!

Wat 'n heerlike idee van genot! In die warm klimaat van Marocco het Matisse sy odaliskes in koel kamers geskilder. Kom ons laai vir die plesier een hier op! Vir Matisse, wat so lief was vir kleure en teksture, rus en kalmte was hierdie vroue 'n ideale onderwerp. Die harem-meisies kon so effens wegbeweeg van die strenger Moslem-wette. Hulle kleurvolle volbroeke, japonne en versierde hare, soos deur Matisse vasgele, bekoor die mensdom nog steeds. Gaan vind gerus nog "odalisques" deur Matisse op die Internet. Volgende keer: 'n Kleur-album van vroue deur Matisse.


Thursday, January 15, 2015

Oop Venster by Colliore

Matisse: Oop Venster te Colliore 1905
Olie op doek
55.3 cm × 46 cm (21 34 in × 18 18 in)
National Gallery of Art, Washington D.C.

Onthou dat in hierdie nuwe eeu daar nie net op nabootsing van die natuur gefokus word nie, maar ook op die “proses” van kunsmaak

OOP VENSTER BY COLLIORE 1905 is ‘n ikoniese werk wat ‘n ouer styl sowel as ‘n meer modernistiese styl bevat  en dus ‘n oorgangswerk is. Matisse is een van die groot innoveerders van die Twintigste eeu, wat nuwe maniere van kuns beplan uitgedink het.  Hy het beslis sy werke goed deurdink .

Die ekspressie van kalmte wat in Matisse se latere werke tot die toeskouer spreek, manifesteer alreeds in die werk uit die Fauve-tydperk. Hy ontwikkel ook vroeg reeds sy vermoë om elke motief en komposisionele element met betekenis te laai. 

OOP VENSTER BY COLLIORE  toon 'n binnekamer met 'n deur of venster na buite. Oop vensters het dwarsdeur Matisse se lewe een van sy gunsteling-temas gebly. Die werk skep twee werelde. Die eerste is die van die buitewereld en die persepsuele ervaring van water en bote, lewe en aksie, wat in helder Impressionistiese stippels weergegee het. (Matisse se eerste wegbreek van klassieke realisme was juis deur die pointellis Signac se tegniek te gebruik.) Die tweede toneel is die kalm binneruimte van die vertrek, 'n gevoel wat oorgedra word deur die hantering van die vensterraam in bree stroke van koel kleure. Die antitese spreek terselfdertyd ook van die twee kante van Matisse as kunstenaar. Doe buitetoneel weerspieël Matisse se liefde vir komplekse patroonwerk en vir wat die oog kan sien (persepsueel), terwyl die binneruim (konsepsueel) sy sin vir orde wys en sy sin vir ekspressie van 'n emosie of gevoel. Waar die sintuie die buitetoneel waarneem, is daar amper 'n "sesde sintuig" aan die binneruimte aan die werk. Dis hier waar die toeskouer die plek van die kunstenaar aanvoel. Iemand moet tog deur daardie venster kyk! Wie aanskou die toneel vanuit die rustige interieur? Matisse verwys gedurig na kuns en die kunstenaar, soos in DIE ROOI ATELJEE 1909

Die gevolgtrekking is dus dat by OOP VENSTER TE COLLIORE  se buitetoneel aan die tradisie van die negentiende eeu behoort (Monet, Pointelisme)  en die binnetoneel wat konsepsueel is, en ‘n ekspressie van rustigheid bevat, deel van die modernistiese beweging  in kuns is wat in die Twintigste eeu posvat.Die vorms en kleure van OOP VENSTER TE COLLIORE word sorgvuldig balanseer. Die binnetoneel bevat vertikale bane terwyl die buitetoneel in horisontale bane opgedeel is. ‘n  Groot groen strook links word deur ‘n kleiner strook groen  aan die regterkant en veelvuldige groen stippels in die middel herhaal. Dieselfde gebeur met die pers kleur. Die oranje en blou op die vensterraam vind weer in die see en en die bote ‘n weerklank. Deur ‘n kleur met dieselfde intensiteit vir nabye sowel as veraf tonele te gebruik, word die hele toneel na die voorste prentvlak getrek.Lg is nog ‘n strewe van die nuwe generasie van skilders.....om NIE diepte-perspektief met normale metodes uit te beeld nie.

Die lesers sal oplet dat daar nie vlak in hierdie werk is wat “moeg” gewerk is nie. Matisse rebelleer teen klassieke realisme. Hy maak sy merk en los dit so. Dikwels kom mens die versigtige beplanning eers by ontleding van die geheel agter.

Matisse se bekende stelling was dat kuns soos ‘n gemaklike leunstoel moet wees. Die ekspressie waarna hy gestrewe het, was kalmte. Volgende keer kyk ons na een van die mees kalm, meevoerend rustige werke van die eeu, Matisse se ARABIESE KAFEE.

©Marie Theron 2015

 


Saturday, December 20, 2014

Die Rooi Ateljee - 'n Ontleding

Vandag gaan ek baie vertel van die goed-deurdenkte werke van Matisse. Na die tydperk van die losse Fauve groepering gaan Matisse voort en bou sy loopbaan op as een van die bekendste en mees ge-eerde kunstenaars van die 20ste Eeu. Kom ons spandeer sommer 'n hele paar geselsies aan Matisse!

"Die Rooi Ateljee" 1911
Olie op Doek
162cm x 130cm (64" x 51")
MOMA New York.
DIE ROOI ATELJEE 1908-9 is ‘n komplekse werk wat op die oog af eenvoudig voorkom. Die raaisels daarin lei die toeskouer tot kontemplasie oor die proses van kunsmaak. Dit vertel die toeskouer dat 'n skilder op 'n plat vlak werk. Dis in hierdie tyd wat kunstenaars begin rebelleer het teen die klassieke werke van vorige eeue waar mens "diep" in 'n prent kon inkyk, asof voor 'n oop venster! Totsiens, reels en perspektief, sagter kleur na agter en al die ou dinge, kuns word vars en nuut in die 20ste eeu. Die Impressioniste, Van Gogh en Gauguin se werke lei tot die nuwe avonture in kuns, ook bekend as Modernisme.

Die rooi kleur is in ‘n gladde vlak sonder variasie neegelê, wat die tweedimensionaliteit beklemtoon. Die muur en die vloer, ver en naby het byvoorbeeld dieselfde intensiteit. Die rooi kleur skyn ook deur die meubels wat grafies uitgebeeld is om alles na een vlak te trek Die weglaat van die hoek van die kamer dra verder tot die plat effek by.

Die afbeeldings van Matisse se eie skilderye lyk of dit op die werk geplak is, en is ‘n prototipe van collage wat die vlak nog platter laat vertoon.  Die skildery-binne-‘n-skildery is so geplaas dat dit paradoksaal ook ‘n deur kan wees waardeur ‘n figuur in ‘n ander vertrek gesien kan word. Die ander skilderye en leë rame is ook metafore vir vensters.

Matisse wys in hierdie werk ook volledig sy betrokkenheid by die proses van kunsmaak. Eerstens is die vertrek ‘n ateljee. Skilderye, ‘n leë raam en keramiekstukke op die tafel toon sy eie kuns. Daar is ‘n verwysing na sy figure met dekoratiewe agtergronde.     Die arabeske van die plante verwys na Art Nouveau en vase verteenwoordig die klassieke kuns. Op die tafel lê ‘n pak potlode wat is ‘n slim parodie op die gelyntekende meubels in die skildery is.


DIE ROOI ATELJEE wys nie slegs na die tweedimensionele vlak en na die proses van kunsmaak nie. Matisse gee hier ook uiting aan ‘n ekspressie van tyd en ruimte. Die klein ruimte van die visbakkie word ‘n metafoor vir die ruimte van die vertrek en die vertrek simboliseer weer die wyer ruimte daarbuite. Dit is een van die redes waarom Matisse gewoonlik ‘n venster of ‘n verwysing na vensters in sy werk het. Die plante in die kamer kring weereens uit na groter ruimtes deur na die plante in die natuur te wys.

Het julle die onderskrifte onder die foto gelees? Dis 'n heerlike groot werk. Ek weet nie of die volgende foto, op die Internet gevind, 'n afdruk of die werklike skildery wys nie, maar dit gee 'n wonderlike gevoel van die grootte van die werk. Laat dit jou ook voel of jy met kloppende hart daar staan?


Ek het baie heerlike voorbeelde van Matisse se speelse dubbelsinnigheid raakgeloop, en gaan volgende keer baie daarvan wys.






Friday, November 7, 2014

Die Fauves, die Eerste Ekspressionistiese Groep van die 20ste Eeu

Dufy: Saint-Pierre de Montmartre et le Sacre-Coeur
PARYS
Oil on Canvas 47cm x 5.2cm

Aan die begin van die eeu was Parys die onteenseglike wêreldhoofstad van die skilder- en beeldhoukuns. Hier het Fauvisme ontstaan as die eerste belangrike nuwe beweging van die twintigste eeu en ook die heel eerste uitsluitlik ekspressionistiese beweging. Die groep het bestaan uit ‘n losgegroepeerde aantal kunstenaars wat dieselfde kreatiewe belangstellings gedeel het.  Die leidende figuur was Matisse en die ander Fauves was Braque,  Derain, Dufy, Vlaminck, Marquet, Rouault, Puy, Friesz en Van Dongen. Fauvisme was egter geen “skool” nie en het geen gesamentlike manifes uitgegee nie.

Die geleentheid waarop Fauvisme aan die publiek voorgestel was, was die Derde Herfssalon (Salon d’Automne) van 1905. Tydens die uitstalling het die kritikus Vauxcelles verbaas na ‘n klassiek-geinspireerde beelhouwerk van Marquet gekyk wat ter wille van kontras tussen die uitbundig gekleurde skilderye geplaas is . Sy opmerking: Donatello tussen die wilde diere! (Donatello au milieu des fauves) het aan die groep die etiket van Fauves besorg. Die Fauves is oor die algemeen koel ontvang en die uitstalling is deur die meeste kritici as 'n ernstige verlies aan prestige vir die Salon beskou. Vauxcelles het darem ten spyte van sy bekende opmerking, die Fauves verstaan. Ander positiewe kritici was Gide, Geffroy, Denis en Leo en Gertrude Stein. Die Steins koop Matisse se "Vrou met 'n Hoed" (hieronder) en sou getroue ondersteuners bly.


Matisse: "Vrou met 'n Hoed" 1905
Olie op Doek
79.4cm x 59.7cm
San Francisco Museum vir Moderne Kuns


Vol vertroue in hulle werk het die Fauves in 1906 'n verdere uitstalling by die Salon van Onafhanklikes gehou. Kom ons kyk na die vreugdevolle ekspressionistiese kleur in nog 'n paar voorbeelde.
De Vlaminck
Die Koringland 1906
25.5cm x 33cm

Derain: Charing Cross Bridge 1906 Oil on canvas. 31 5/8 x 39 1/2 inJohn Hay Whitney Collection. 1982.76.3.
 National Gallery of Art, Washington, D.C




Derian: London Bridge , London, Winter 1906
Olie op Doek
66cm x 99.1cm
M.O.M.A

Dufy: Regatta by Cowes 1934
Washington DC National Gallery of Art


'n Fees van Ekspressionistiese kleur! Volgende keer gaan ons binne-in die denk-wereld van Matisse!

Thursday, October 23, 2014

Die Ekspressiewe Waarde van die Mens en Menslike Vorm

In die vorige stuk was daar baie leeswerk waarin twee werke vergelyk was! Kom ons kyk vandag meesal prente en stel vas wat die menslike vorm vir ekspressiewe kunstenaars beteken. Ons het reeds diep ekspressie waargeneem in die werk van Picasso en Rouault. Om ons sien ons ook dikwels  wat ek noem "goedkoop ekspressionisme" waar hande gewronge is, trane loop, emosie wat mens probeer tap vir al wat dit kan! As iets so duidelik uitgespel word, raak die mens afgestomp. Hier volg 'n paar werke wat mens weer laat sien hoe suggestie blywend ekspressionisties kan wees.

Ons begin met 'n werk wat my altyd sal laat asem ophou en met vele vrese en voorbodes los,  De Chirico se "Mystery and Melancholy of a Street" 

De Chirico: "Mystery and Melancholy of a Street"
 1914. Oil on canvas
88 x 72mm Private Collection.
Is dit die meisie alleen in die laan met sy sterk perspektief, wat mens aanvoel? En kyk net die krag van ekspressie in die onverklaarbare skaduwee om die draai!

Van skaduwees na maskers; mense kruip mos agter maskers weg, maar wat die toeskouer vind is dat die maskers iets meedeel omtrent die mens daaragter. Maskers is dus dubbelsinnig, dit steek weg maar dit gee ook baie weg. Die grynslag van maskers dryf spot met die mens se vriendelikheid. Hier is die verf sommer ook heerlik ekspressief  aangewend in Nolde se "Masked Still Life III"

Emil Nolde: "Masked Still Life III"

Nolde se botsende kleure maak dit kru en een onderstebo masker verhoog die bizarre groep en laat die toeskouer die onheil aanvoel, sonder dat dit uitgespel word.

Die menslike oog sal iets wat in menslike proporsie en vorm voorkom, as "mens" ervaar. Ons almal het al in die lewe voorbeelde van antropomorfisme teegekom, bv die bottel-oopmaker in ons kombuise wat laat dink aan 'n mens met hande bo die kop. So kan die kunstenaar van antropomorfiese vorms gebruik maak om iets uit die menslike ervaringsveld mee te deel. Hier is Anthony Caro se "Night Movements"

Anthony Caro: "Night Movements" 1987-1990
Staal was groen gekleur en met was poleer is.
275.5 x 1077 x 335 cm
Die vorms is uiters sprekend en die toeskouer spin 'n verhaal as hy in hulle teenwoordigheid kom.

In 2009 is 18 miljoen dollars betaal vir een van die gewildste werke van die 20ste eeu: Giacometti se "Falling Man" 'n voorbeeld van hoe min nodig is om 'n kragtige ekspressie uit te druk! Drie woorde van 'n ware digter deel meer mee as die aanhoudende relaas van vele ander! Dis die gevoel wat ek persoonlik hieroor het.



George Segal, beeldhouer, het mensafdrukke in gips gegiet, perfek afgerond met detail en dit spierwit gelos. Kyk in die volgende twee fotos van "The Diner" en albei figure se eensaamheid en afsondering word deur die gebrek aan kleur beklemtoon:

Bo en onder: Segal: "The Diner" lewensgrootte beelde en installasie 1964 -66


Met hierdie beelde kyk Segal diep in die menslike psige en dra dieselfde emosies oor as die werke van Hopper.

Standbeelde en selfs winkelpoppe kan diep menslike ekspressie oordra. Dalk spandeer ek nog 'n hoofstuk aan hierdie idee van "ekspressie wat in menslike vorms skuil". Dalk wil die lesers idees bydra?  Kom ons kyk na die onrustige relaas wat De Chirico skep met sy "The Disquieting Muses":

Hierdie is 'n 1947 replika van The Disquieting Muses
deur De Chirico
Universiteit van Iowa Kunsmuseum

Die leegheid van die plein,  die skerp perspektief na agter wat 'n gevoel van vertigo wek,en die onsamehangendheid van die drie vorms maak dit inderdaad 'n onrustige werk.

Ek gaan eendag weer poppe en maskers bespreek, maar volgende keer streel ons die oog, met ekspressionisme waarin uitbundige kleur gebruik word.

Kopiereg Marie Theron 2014




Wednesday, October 15, 2014

'n Vergelyking


Ekspressie kan ‘n uitdrukking van vreugde, rustigheid en gemak  weergee. Of die kunstenaar kan ‘n donker en somber ekspressie skep. Lyn, vorm, kleur, en diepte is almal elemente wat ‘n rol speel.

Twee groot werke word hier bespreek en is goeie voorbeelde van die verskillende vorms wat ekspressie kan aanneem. Die werke is “Bonheur de Vivre” van Matisse en “Demoiselles D’Avignon” van Picasso. (dit word “dȇmo-sel da-vie-nô uitgespreek)


Bonheur de Vivre - Matisse
1905 - 6  Olie op doek
240.5cm x 176.5cm
Barnes Foundation, Philapelphia, Pennsylvania

Desmoiselles D'Avignon - Picasso 2007
Olie op doek 243.9cm x 233.7cm
Museum of Modern Art, New York


Albei skilderye toon ‘n toneelagtige opset. Matisse se figure is egter klein en verspreid soos op ‘n balletverhoog, wat die vreedsaamheid van die toneel aanhelp. Die diep ruimte laat die toeskouer vry voel. Picasso se figure, daarenteen, vul die formaat en is baie nader aan die toeskouer, waarmee hy ‘n meer intieme kabaret en sterker emosie uitbeeld. Kyk hoe dit amper ‘n klein verhoog met gordyne voorstel. Alhoewel albei kunstenaars na die aanskoue van Cèzanne se Groot Baaiers 1906 besluit het om hierdie werke te skep, bewys hulle dat hulle sterk style het, en volg hulle hulle eie rigting.

Matisse se Bonheur de Vivre gee “die goeie lewe” weer, terwyl die hoekige styfingedrukte vorms van Picasso se Desmoiselles D’ Avignon streng en vol voorbode vertoon (soepel lyne vir geluk, skerp, puntige lyne vir bedreiging) In Matisse se skilderye word die vrolike Bachanale van Poussin, Ingres en Puvis de Chavannes opgeroep. Die toeskouer voel self lus om daardie wereld van vrye liefde en rustigheid binne te tree. Die vroue se rondings en sensualiteit word beklemtoon.

Picasso se skildery trek weer inspirasie uit Afrika- en Iberiese maskers en beelde en El Greco altaarstukke. Matisse skilder ‘n idilliese paradys-wêreld, terwyl Picasso hier kyk na die kontemporêre probleem van prostitusie. Daar word beweer dat die werk ‘n reaksie op Matisse se Bonheur de Vivre was. Die toeskouer word aangegluur en daar is ook geen spasie gelaat nie, dus is mens beslis nie lus om daar in te gaan nie. Die “jongemeisies van Avignon” is nie vroulik nie, en ook nie mooi nie, maar eerder “savage” Die twee regs dra selfs Afrika maskers. Die twee middelstes poseer sonder enige gevoel of emosie in hulle gesigte. Die meisie heel links met donker Afrika gelaat lyk total onbelangstellend.

Dis ook belangrik om na die kleure te kyk en te besluit watter ekspressie hulle oordra. In die jare wat ek studeer het, was daar slegs swart/wit afdrukke van Bonheur de Vivre beskikbaar vanwee beperkings deur die eienaars, die Barnes Foundation. Nou sien ons dit gelukkig in die vrolike kleure met baie kleurkontraste wat geluk simboliseer. Desmoiselles D’Avignon, daarenteen is in grysblou en vleespienk kleure geskilder.wat nie baie diepte aan die komposisie verleen nie. Die baie pienk beklemtoon die oormaat van naaktheid. 

Hierna wy Picasso hom vir baie jare aan die vraagstukke van die prentvlak en formele oorwegings soos in sy Kubistiese fase. Hierdie is baanbrekerswerk  en die begin van vernuwinge in kuns. Picasso is ‘n groot genie van die Twintigste eeu. Sy werke is dikwels die voorloper van nuwe rigtings, beide formalisties en ekspressionisties. Hier is die bordjie vrugte alreeds 'n mini Kubustiese skilderytjie.

‘n Punt wat nie ignoreer kan word nie, is die verskille in nasionaliteit van die twee skilders. Matisse is die Fransman met liefde vir die goeie lewe en sy kuns-wortels in die kleurvolle Fauvisme. Picasso se Katalaanse karaktertrekke lei hom na dieper gevoel en voorbode, wat meer met Rouault se werk verband hou.Matisse gaan hierna voort om gemak voor te stel en aan vrede en geluk ekspressie te gee. Hier is sy bekende “leunstoel gesegde”:

“What I dream of is an art of balance, of purity and serenity devoid of troubling or depressing subject matter - a soothing, calming influence on the mind, rather like a good armchair which provides relaxation from physical fatigue.” Henri Matisse
Kopiereg Marie Theron 2014.



Wednesday, October 8, 2014

Rouault

Die doel van my blog is om maklike riglyne te gee aan die vele reisigers en liefhebbers van kunswerke. Geen mens wil geintimideer wees deur streng akedemie wat aan sy gunsteling-werke so 'n "moenie aanraak en moenie praat" aura gee nie. Kom ons begin kyk na die redes waarom kunswerke die hart vinniger kan laat klop!

Ek "wiki" nie en die notas is my eie en uit my kop na baie jare se ondervinding en observasie. Raadpleeg gerus Wikipedia vir aanvulling en ook vir agtergrond oor die kunstenaars. Ek raak net aan hulle lewens as dit definitief relevant is vir die werke.

Die notas word sonder professionele taalversorging aangebied. Help my gerus reg as die taal verkeerd klink en ek sal dit regmaak as daar 'n skreiende fout is.



ROUAULT

Dit word algemeen aanvaar dat Die Brücke, Kokoscka en ander Noord-Europeërs die essensie van die ekspressionisme baie goed vertolk het.   Frankryk het egter ook ‘n bydrae gelewer. Die uitstekende onderrig van Moreau, wat sy studente aan Simbolisme bekend gestel het, was die katalis vir die style van Rouault  en Matisse.

Rouault is die minste “tipies” van die Fauves (die eerste groot beweging van die 20ste eeu) en vertolk alreeds in sy werk die meer gefolterde vorms van ekspressionisme. Sy werk staan in die oorgang van simbolisme na ekspressionisme en het selfs iets in gemeen met Munch en Ensor. In die meeste van Rouault se werke vind ons die menslike vorm, wat in sigself baie ekspressionisties is, en kommentaar op die menslike lewens.



In VOOR ‘n SPIEËL 1906 en ODELISQUE 1907 lewer die diep-godsdienstige Rouault bytende kommentaar op die euwels van die gemeenskap. Die toeskouer staan in ‘n direkte ontmoeting met die prostituut, want sy vul die formaat en word vorentoe gedruk tot teenaan die prentvlak. Hier is geen klassieke idealisering van die vrou nie. Die romantisering van die vrou soos by Gauguin ontbreek totaal, so ook die simpatieke siening van Lautrec. In albei hierdie werke spreek die aggressie van ‘n roofdier uit die meisies se houding en gevoellose maskeragtige gesigte.

Die blou kleur oorheers in albei werke, en die geelbleek liggame, met blou geskakeer lewer kommentaar op die ongesonde nagtelike lewe van die meisies. Die buitelyne is oor en oor gekorrigeer, soos ‘n kind wat soek na vorm. Hierdie oorwerkte buitelyne vorm die unieke basis van Rouault se styl. Soos by Van Gogh se kaphale, leef Rouault sy persoonlike gevoel teenoor die onderwerp uit.


KOP VAN ‘n TRAGIESE HANSWORS toon weereens die menslike konflik: simbole wat vir plesier staan, is in werklikheid tragies..  Die glasvenstertegniek wat deur dik swart lyne verkry word, is evokatief van katedrale en verteenwoordig ook so Rouault se godsdienssin. Terselfdertyd verwys dit na Rouault se vakmansskap in glasskilderwerk op 14-jarige ouderdom.


Die olieverf skildery DIE OU KONING, 'n laat werk van 1937 is sekerlik baie van julle se gunsteling Rouault.  Hier het hy sy volwasse styl bereik. Die werk het ‘n hewige tekstuur wat ‘n metafoor is vir die koning se swaarmoedigheid. Die beweginglose hand word met diè tegniek beklemtoon. Net soos by die waterverfskilderye  (VOOR ‘n SPIEËL en ODELISQUE ) waar Rouault  sy lyne oorwerk het ter wille van ekspressie, is die buitelyne hier ook nie solied nie maar is baie lyne oormekaar aangebring soos wat die kunstenaar die absolute essensiële vorm soek. Laag op laag kleur word neergelê en verryk  met steeds dikker wordende impasto. Die gloed wat agter die kleur le, wys weereens op die glasvester tegniek. Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Cecil Higgs, het tydens haar verblyf in Europa die volgende van Rouault gesê:

“With the rough, furious simplicity of his technique, the subtlety is remarkable, the sensitiveness of a movement to express a mouth, to give meaning to a face: form expressing feeling with the utmost boldness & the greatest delicacy & spareness.”*
( Dieter Bertram: CECIL HIGGS Close Up, William Waterman Publications, p 34.)