Showing posts with label marie theron. Show all posts
Showing posts with label marie theron. Show all posts

Saturday, March 21, 2015

Matisse: Patroon op Patroon

Matisse se vroue is gemaklik en rustig en hy gee 'n universele siening van vroue weer wat bereikbaar is vir die toeskouer. In die twintigerjare ontspan Matisse tydelik die vereenvoudiging van die prentvlak. Sy vrouefigure word volmetries in plaas van vlak uitgebeeld. Die struktuur en chiaroscuro van CARMELINA word weer gebruik in TWEE VROUE IN ‘N BINNERUIM 1920 en in VROU MET ‘N GOUDVISSIE 1921 asook ‘n reeks odeliskes, sommige in die grafiese media en ander in olieverf.

Kom ons verlustig ons vereers in die kleurvolle uitbeeldings van vroue deur Matisse. Hier is 'n kunstenaar wat hou van vereenvoudiging, maar terselfdertyd versot is op patrone veral die wat in tekstiele, binneversiering en klere gesien word.

Henri Matisse. The Algerian Woman. 1909. Oil on canvas. 
Musee National d'Art Moderne, Centre Georges Pompidou, Paris, ...

Matisse, Odalisque in Yellow Robe - 1937





Kom ons bespreek vir oulaas een van hierdie werke van die 1920's, uit die tyd voordat Matisse tot sy groot vereenvoudiging oorgegaan het. DIE MOORSE SKERM 1921 is weereens ‘n groot werk en som Matisse se belangstelling in die twintigerjare op. Die prentvlak is vervlak sodat alles na vore tilt. Die meisies is egter volumetries uitgebeeld en ons word weereens bewus van raaisel en paradoks in die werk. Daar is baie teksture en dit bevredig Matisse periodieke onversadigbare liefde vir ingewikkelde oosterse ontwerpe. Die patone van die oosterse matte, die moorse skerm en die muurpapier kry verdere kompetisie van die blomme en die traliewerk in die kamer. Mens mag dalk veronderstel dat Matise wat dikwels Marocco besoek het, van hierdie matte en tekstiele na Nice geneem het.

Matisse 1921. Die Moorse Skerm Olie op Doek.
 Philidelphia Kunsmuseum
Die veelvuldige ontwerpe vorm ‘n kontras met die meisies wat vars in spierwit rokke, kouse en skoene vertoon . Hiermee lê Matisse ook vir ons die lewenslustige gees van die twintigerjare vas. Die kortgeknipte haarstyle , lang krale, korter rokke en hoëhakskoene dokumenteer verder die era waarin die werk geskilder is. In 'n volgende hoofstuk kan ons kyk na die verandering in Matisse se werk na 1932, wanneer hy ons gaan boei met van die mooiste vereenvoudigings in kuns, en prente met universele bekoring.

Thursday, February 19, 2015

Matisse en die Ekspressie van Gemak

As mens dink aan Matisse, voel jy amper hoe die spanning van jou afrol. Ekspressie is daar, maar dis 'n ekspressie van kalmte. Hy bereik vir my 'n hoogtepunt daarmee in Die Arabiese Kafee. Soos baie van sy voorgangers, (Delacroix, Renoir) het Matisse graag Tangiers in Marocco besoek. Ek raai aan sy werk van luierende "odalisques" en rustige gange en vertrekke dat juis die stadiger pas van hierdie Afrika/Arabiese land 'n invloed op Matisse gehad het. Kom ons kyk na hierdie pragtige missie wat hy vir homself in kuns gestel het: 

What I dream of is an art of balance, of purity and serenity devoid of troubling or depressing subject matter - a soothing, calming influence on the mind, rather like a good armchair which provides relaxation from physical fatigue.
(Met dank aan brainyquote.com)

Die Arabiese Kafee 1912 -13
Olie op doek
210cm x 176cm
Hermitage Museum
In ARABIESE KAFEE 1913 met sy blou atmosfeer gee hy aan kleur ‘n eie ekspressionistiese stem.. Die monochroom veld wat die tweedimensionele vlak bevorder bou voort op die idee van DIE ROOI ATELJEE waar vloere en mure èèn word en dadelik die perspektief (en so die idee van drie-dimensionaliteit) teenwerk. In ARABIESE KAFEE word die blou kleur ook op die figure gebruik. Die atmosfiese blou lig dematerialiseer die figure. Daar is geen chiaroscuro, detail of modellering wat die oppervlak versteur nie. Die blou aura om die figure gee ‘n Cèzanne-agtige passage

ARABIESE KAFEE is soos baie van Matisse se werk suggestief van die oorpeinsing en ‘n byna voorwêreldse stilte.  Die arabiere staar na die visse wie se blou wêreldjie waarin hulle sweef ‘n metafoor vir die blou kamer is en dìt weer van die wyer blou universele  ruimte.. Die arabiere hier het geen tydsbegrip nie en lê in die foetusposisie, ‘n metafoor vir hulle getransformeerde staat waarin hede en verlede èèn word ( Bersoniese filosofie)

Matisse skilder ‘n raam om die werk, maar nie dìt òf die hoë Moorse boë in die agtergrond slaag daarin om die vertrek te anker nie,  wat moontlik ook die effek van opium ook kan suggereer.

Aan die leser: Die notas kom uit werk wat ek in die 1980's vir myself gedoen het, met die naam Kuns in Kompartemente:  I Die Ekspressionistiese tradisie in Twintigste Eeuse Kuns. Tipies van my optimisme wat met my weghardloop, het ek nog 5 of 6 tradisies opgesom om oor te skryf. Heerlike dae van navorsing in Die Universiteit van Natal se Durban-kampus argiewe was gevolg deur nagtelike asma en jeukende vel en oe, van die stof en miete wat uit 1950s tydskrifte gekom het, maar nouja, ons het verhuis na die Kaap , en die taak het bly staan! Met die oordra van komper na komper en program na program, het die font net absoluut sy eie wil. Dis waarom hier soveel font-tipes verskyn!

Wat 'n heerlike idee van genot! In die warm klimaat van Marocco het Matisse sy odaliskes in koel kamers geskilder. Kom ons laai vir die plesier een hier op! Vir Matisse, wat so lief was vir kleure en teksture, rus en kalmte was hierdie vroue 'n ideale onderwerp. Die harem-meisies kon so effens wegbeweeg van die strenger Moslem-wette. Hulle kleurvolle volbroeke, japonne en versierde hare, soos deur Matisse vasgele, bekoor die mensdom nog steeds. Gaan vind gerus nog "odalisques" deur Matisse op die Internet. Volgende keer: 'n Kleur-album van vroue deur Matisse.


Saturday, December 20, 2014

Die Rooi Ateljee - 'n Ontleding

Vandag gaan ek baie vertel van die goed-deurdenkte werke van Matisse. Na die tydperk van die losse Fauve groepering gaan Matisse voort en bou sy loopbaan op as een van die bekendste en mees ge-eerde kunstenaars van die 20ste Eeu. Kom ons spandeer sommer 'n hele paar geselsies aan Matisse!

"Die Rooi Ateljee" 1911
Olie op Doek
162cm x 130cm (64" x 51")
MOMA New York.
DIE ROOI ATELJEE 1908-9 is ‘n komplekse werk wat op die oog af eenvoudig voorkom. Die raaisels daarin lei die toeskouer tot kontemplasie oor die proses van kunsmaak. Dit vertel die toeskouer dat 'n skilder op 'n plat vlak werk. Dis in hierdie tyd wat kunstenaars begin rebelleer het teen die klassieke werke van vorige eeue waar mens "diep" in 'n prent kon inkyk, asof voor 'n oop venster! Totsiens, reels en perspektief, sagter kleur na agter en al die ou dinge, kuns word vars en nuut in die 20ste eeu. Die Impressioniste, Van Gogh en Gauguin se werke lei tot die nuwe avonture in kuns, ook bekend as Modernisme.

Die rooi kleur is in ‘n gladde vlak sonder variasie neegelê, wat die tweedimensionaliteit beklemtoon. Die muur en die vloer, ver en naby het byvoorbeeld dieselfde intensiteit. Die rooi kleur skyn ook deur die meubels wat grafies uitgebeeld is om alles na een vlak te trek Die weglaat van die hoek van die kamer dra verder tot die plat effek by.

Die afbeeldings van Matisse se eie skilderye lyk of dit op die werk geplak is, en is ‘n prototipe van collage wat die vlak nog platter laat vertoon.  Die skildery-binne-‘n-skildery is so geplaas dat dit paradoksaal ook ‘n deur kan wees waardeur ‘n figuur in ‘n ander vertrek gesien kan word. Die ander skilderye en leë rame is ook metafore vir vensters.

Matisse wys in hierdie werk ook volledig sy betrokkenheid by die proses van kunsmaak. Eerstens is die vertrek ‘n ateljee. Skilderye, ‘n leë raam en keramiekstukke op die tafel toon sy eie kuns. Daar is ‘n verwysing na sy figure met dekoratiewe agtergronde.     Die arabeske van die plante verwys na Art Nouveau en vase verteenwoordig die klassieke kuns. Op die tafel lê ‘n pak potlode wat is ‘n slim parodie op die gelyntekende meubels in die skildery is.


DIE ROOI ATELJEE wys nie slegs na die tweedimensionele vlak en na die proses van kunsmaak nie. Matisse gee hier ook uiting aan ‘n ekspressie van tyd en ruimte. Die klein ruimte van die visbakkie word ‘n metafoor vir die ruimte van die vertrek en die vertrek simboliseer weer die wyer ruimte daarbuite. Dit is een van die redes waarom Matisse gewoonlik ‘n venster of ‘n verwysing na vensters in sy werk het. Die plante in die kamer kring weereens uit na groter ruimtes deur na die plante in die natuur te wys.

Het julle die onderskrifte onder die foto gelees? Dis 'n heerlike groot werk. Ek weet nie of die volgende foto, op die Internet gevind, 'n afdruk of die werklike skildery wys nie, maar dit gee 'n wonderlike gevoel van die grootte van die werk. Laat dit jou ook voel of jy met kloppende hart daar staan?


Ek het baie heerlike voorbeelde van Matisse se speelse dubbelsinnigheid raakgeloop, en gaan volgende keer baie daarvan wys.