Showing posts with label lynwerk. Show all posts
Showing posts with label lynwerk. Show all posts

Saturday, December 20, 2014

Die Rooi Ateljee - 'n Ontleding

Vandag gaan ek baie vertel van die goed-deurdenkte werke van Matisse. Na die tydperk van die losse Fauve groepering gaan Matisse voort en bou sy loopbaan op as een van die bekendste en mees ge-eerde kunstenaars van die 20ste Eeu. Kom ons spandeer sommer 'n hele paar geselsies aan Matisse!

"Die Rooi Ateljee" 1911
Olie op Doek
162cm x 130cm (64" x 51")
MOMA New York.
DIE ROOI ATELJEE 1908-9 is ‘n komplekse werk wat op die oog af eenvoudig voorkom. Die raaisels daarin lei die toeskouer tot kontemplasie oor die proses van kunsmaak. Dit vertel die toeskouer dat 'n skilder op 'n plat vlak werk. Dis in hierdie tyd wat kunstenaars begin rebelleer het teen die klassieke werke van vorige eeue waar mens "diep" in 'n prent kon inkyk, asof voor 'n oop venster! Totsiens, reels en perspektief, sagter kleur na agter en al die ou dinge, kuns word vars en nuut in die 20ste eeu. Die Impressioniste, Van Gogh en Gauguin se werke lei tot die nuwe avonture in kuns, ook bekend as Modernisme.

Die rooi kleur is in ‘n gladde vlak sonder variasie neegelê, wat die tweedimensionaliteit beklemtoon. Die muur en die vloer, ver en naby het byvoorbeeld dieselfde intensiteit. Die rooi kleur skyn ook deur die meubels wat grafies uitgebeeld is om alles na een vlak te trek Die weglaat van die hoek van die kamer dra verder tot die plat effek by.

Die afbeeldings van Matisse se eie skilderye lyk of dit op die werk geplak is, en is ‘n prototipe van collage wat die vlak nog platter laat vertoon.  Die skildery-binne-‘n-skildery is so geplaas dat dit paradoksaal ook ‘n deur kan wees waardeur ‘n figuur in ‘n ander vertrek gesien kan word. Die ander skilderye en leë rame is ook metafore vir vensters.

Matisse wys in hierdie werk ook volledig sy betrokkenheid by die proses van kunsmaak. Eerstens is die vertrek ‘n ateljee. Skilderye, ‘n leë raam en keramiekstukke op die tafel toon sy eie kuns. Daar is ‘n verwysing na sy figure met dekoratiewe agtergronde.     Die arabeske van die plante verwys na Art Nouveau en vase verteenwoordig die klassieke kuns. Op die tafel lê ‘n pak potlode wat is ‘n slim parodie op die gelyntekende meubels in die skildery is.


DIE ROOI ATELJEE wys nie slegs na die tweedimensionele vlak en na die proses van kunsmaak nie. Matisse gee hier ook uiting aan ‘n ekspressie van tyd en ruimte. Die klein ruimte van die visbakkie word ‘n metafoor vir die ruimte van die vertrek en die vertrek simboliseer weer die wyer ruimte daarbuite. Dit is een van die redes waarom Matisse gewoonlik ‘n venster of ‘n verwysing na vensters in sy werk het. Die plante in die kamer kring weereens uit na groter ruimtes deur na die plante in die natuur te wys.

Het julle die onderskrifte onder die foto gelees? Dis 'n heerlike groot werk. Ek weet nie of die volgende foto, op die Internet gevind, 'n afdruk of die werklike skildery wys nie, maar dit gee 'n wonderlike gevoel van die grootte van die werk. Laat dit jou ook voel of jy met kloppende hart daar staan?


Ek het baie heerlike voorbeelde van Matisse se speelse dubbelsinnigheid raakgeloop, en gaan volgende keer baie daarvan wys.






Wednesday, October 15, 2014

'n Vergelyking


Ekspressie kan ‘n uitdrukking van vreugde, rustigheid en gemak  weergee. Of die kunstenaar kan ‘n donker en somber ekspressie skep. Lyn, vorm, kleur, en diepte is almal elemente wat ‘n rol speel.

Twee groot werke word hier bespreek en is goeie voorbeelde van die verskillende vorms wat ekspressie kan aanneem. Die werke is “Bonheur de Vivre” van Matisse en “Demoiselles D’Avignon” van Picasso. (dit word “dȇmo-sel da-vie-nô uitgespreek)


Bonheur de Vivre - Matisse
1905 - 6  Olie op doek
240.5cm x 176.5cm
Barnes Foundation, Philapelphia, Pennsylvania

Desmoiselles D'Avignon - Picasso 2007
Olie op doek 243.9cm x 233.7cm
Museum of Modern Art, New York


Albei skilderye toon ‘n toneelagtige opset. Matisse se figure is egter klein en verspreid soos op ‘n balletverhoog, wat die vreedsaamheid van die toneel aanhelp. Die diep ruimte laat die toeskouer vry voel. Picasso se figure, daarenteen, vul die formaat en is baie nader aan die toeskouer, waarmee hy ‘n meer intieme kabaret en sterker emosie uitbeeld. Kyk hoe dit amper ‘n klein verhoog met gordyne voorstel. Alhoewel albei kunstenaars na die aanskoue van Cèzanne se Groot Baaiers 1906 besluit het om hierdie werke te skep, bewys hulle dat hulle sterk style het, en volg hulle hulle eie rigting.

Matisse se Bonheur de Vivre gee “die goeie lewe” weer, terwyl die hoekige styfingedrukte vorms van Picasso se Desmoiselles D’ Avignon streng en vol voorbode vertoon (soepel lyne vir geluk, skerp, puntige lyne vir bedreiging) In Matisse se skilderye word die vrolike Bachanale van Poussin, Ingres en Puvis de Chavannes opgeroep. Die toeskouer voel self lus om daardie wereld van vrye liefde en rustigheid binne te tree. Die vroue se rondings en sensualiteit word beklemtoon.

Picasso se skildery trek weer inspirasie uit Afrika- en Iberiese maskers en beelde en El Greco altaarstukke. Matisse skilder ‘n idilliese paradys-wêreld, terwyl Picasso hier kyk na die kontemporêre probleem van prostitusie. Daar word beweer dat die werk ‘n reaksie op Matisse se Bonheur de Vivre was. Die toeskouer word aangegluur en daar is ook geen spasie gelaat nie, dus is mens beslis nie lus om daar in te gaan nie. Die “jongemeisies van Avignon” is nie vroulik nie, en ook nie mooi nie, maar eerder “savage” Die twee regs dra selfs Afrika maskers. Die twee middelstes poseer sonder enige gevoel of emosie in hulle gesigte. Die meisie heel links met donker Afrika gelaat lyk total onbelangstellend.

Dis ook belangrik om na die kleure te kyk en te besluit watter ekspressie hulle oordra. In die jare wat ek studeer het, was daar slegs swart/wit afdrukke van Bonheur de Vivre beskikbaar vanwee beperkings deur die eienaars, die Barnes Foundation. Nou sien ons dit gelukkig in die vrolike kleure met baie kleurkontraste wat geluk simboliseer. Desmoiselles D’Avignon, daarenteen is in grysblou en vleespienk kleure geskilder.wat nie baie diepte aan die komposisie verleen nie. Die baie pienk beklemtoon die oormaat van naaktheid. 

Hierna wy Picasso hom vir baie jare aan die vraagstukke van die prentvlak en formele oorwegings soos in sy Kubistiese fase. Hierdie is baanbrekerswerk  en die begin van vernuwinge in kuns. Picasso is ‘n groot genie van die Twintigste eeu. Sy werke is dikwels die voorloper van nuwe rigtings, beide formalisties en ekspressionisties. Hier is die bordjie vrugte alreeds 'n mini Kubustiese skilderytjie.

‘n Punt wat nie ignoreer kan word nie, is die verskille in nasionaliteit van die twee skilders. Matisse is die Fransman met liefde vir die goeie lewe en sy kuns-wortels in die kleurvolle Fauvisme. Picasso se Katalaanse karaktertrekke lei hom na dieper gevoel en voorbode, wat meer met Rouault se werk verband hou.Matisse gaan hierna voort om gemak voor te stel en aan vrede en geluk ekspressie te gee. Hier is sy bekende “leunstoel gesegde”:

“What I dream of is an art of balance, of purity and serenity devoid of troubling or depressing subject matter - a soothing, calming influence on the mind, rather like a good armchair which provides relaxation from physical fatigue.” Henri Matisse
Kopiereg Marie Theron 2014.



Saturday, October 11, 2014

Kenmerke van Ekspressionisme

 Die  laat-19de eeu en die twintigste eeu sien ‘n wegbreek van die naturalisme van die vorige eeue, en die ontstaan van sterk nuwe tradisies. Een van die sterkste rigtings wat die twintigste eeuse kuns inneem is diè van ekspressionisme. Lyn- en vormdistorsie en arbitrêre kleurgebruik word belangrike stylmiddele waarmee die beeld met evokatiewe krag gelaai word. Omdat die saga van menswees bò die formele oorwegings ( van byvoorbeeld die formalistiese tradisie)  gestel word, ontvang die toeskouer ‘n emosionele boodskap.


Die grootste direkte invloed op twintigste eeuse ekspressionime lê egter by post-impressionisme, d.w.s die werk van Van Gogh en Gauguin en Derain en die Nabi's.  Hulle vlakke, kleure en komposisies maak groot opslae en lei tot nuwe tipes van ekspressie.

Stap met my deur die volgende skilderye en kyk na die vernuwinge wat mens te wagte kan wees.

1 Teoretisering oor die proses en vraagstukke van kunsskepping. Vergeet van die “oop venster”, is die kunstenaars se leuse. Kuns hoef nie soos ‘n venster te wees waardeur mens tot in die verte kan sien nie.
Pollock Full Fathom Five - Number 8 (detail) 1949.
 oil , enamel and aluminium verf op doek
 Neuberger Museum, State University of New York

 2 Die maak van kuns is dikwels die tema, of ‘n sub-tema van die werk. Die genot wat die kunstenaar in die skilderproses vind kan selfs die enigste doel wees. Kyk na Pollock (hierbo) en 'n latere Monet werk (hieronder). Monet, wat in sy Impressionistiese jare eers atmosferiese diepte in die waterlelie-damme gewys het, gee aan ons in sy latere jare ‘n vlak met getekstureerde verf, sonder ‘n gevoel van wat bo en onder is. Dieselfde beskrywing kan vir die Pollock geld en baie belangrik: die genot van die skilder in die skilderdaad spreek daaruit.


3 Verf alleen is nie meer die voorvereiste vir skilderye nie. Collage-elemente en ander vlyte word met skilderwerk gemeng. In die onderstaande voorbeeld lees ons baie in Picasso se collage. Die letterwerk, die nagemaakte rottang (dis oliekleed met rottang-patroon) en die omranding van tou wat dit laat lyk of die skepping op ‘n skinkbord aangebied word dra alles by om te bevestig dat die werk geen diepte besit nie. So word die toneel verplat en perspektief verban. Die herbevestiging van die twee-dimensionele vlak verklaar aan die toeskouer dat diepte “vals” is. Jy kyk na ‘n plat vlak wat nie iets anders probeer wees nie.


Picasso - Still Life with Chair Caning 1911-12

4  Kleur verkry nuwe funksies in modernistiese kuns. Kleure kan toetredend wees soos in "Die Groen Streep" van Matisse, waar die drie vlakke van groen, pers en oranje die kop vorentoe druk. Deurdat die gesig so te se voor die toeskouer se oe sweef, word perspektief verder uitgesluit.

Matisse The Green Line 2004
5  Onnatuurlike kleure roep ook emosie op. Distorsie van kleur, bv lemmetjiegroen op die gesig hierbo en ander sterk kleure sterk kleure in "Die Groen Streep"  dui op sterk innerlike karakter.  Vergelyk dit ook met Rouault se "Die Ou Koning" waar sterk lyn en kleur op karakter dui.  In teenstelling daarmee is die blou kleure van Picasso se “Man en Vrou in ‘n Kafee”  self-verduidelikend. Dink ook aan die vleeskleure in Rouault se "Voor die Spieel" uit die vorige stuk.

Picasso - Man and Woman in a Cafe -1903


6  Laastens kom ons by lyn as belangrike kunselement in die modernistiese kuns. Ons gaan lyne leer lees: sagte vloeiende lyne vir vroulikheid en rustigheid, en skerp gepunte onrustige lyne vir gevaar. Vir die volgende hoofstuk gaan twee belangrike werke van die vroeg-twintigste eeu vergelyk word na aanleiding van hulle ekspressie.

Kopiereg voorbehou 2014 Marie Theron.
U kan meer oor Matisse lees op Afrikaanse Wiki