Showing posts with label Fauves. Show all posts
Showing posts with label Fauves. Show all posts

Thursday, January 15, 2015

Oop Venster by Colliore

Matisse: Oop Venster te Colliore 1905
Olie op doek
55.3 cm × 46 cm (21 3⁄4 in × 18 1⁄8 in)
National Gallery of Art, Washington D.C.

Onthou dat in hierdie nuwe eeu daar nie net op nabootsing van die natuur gefokus word nie, maar ook op die “proses” van kunsmaak. 

OOP VENSTER BY COLLIORE 1905 is ‘n ikoniese werk wat ‘n ouer styl sowel as ‘n meer modernistiese styl bevat  en dus ‘n oorgangswerk is. Matisse is een van die groot innoveerders van die Twintigste eeu, wat nuwe maniere van kuns beplan uitgedink het.  Hy het beslis sy werke goed deurdink .

Die ekspressie van kalmte wat in Matisse se latere werke tot die toeskouer spreek, manifesteer alreeds in die werk uit die Fauve-tydperk. Hy ontwikkel ook vroeg reeds sy vermoë om elke motief en komposisionele element met betekenis te laai. 

OOP VENSTER BY COLLIORE  toon 'n binnekamer met 'n deur of venster na buite. Oop vensters het dwarsdeur Matisse se lewe een van sy gunsteling-temas gebly. Die werk skep twee werelde. Die eerste is die van die buitewereld en die persepsuele ervaring van water en bote, lewe en aksie, wat in helder Impressionistiese stippels weergegee het. (Matisse se eerste wegbreek van klassieke realisme was juis deur die pointellis Signac se tegniek te gebruik.) Die tweede toneel is die kalm binneruimte van die vertrek, 'n gevoel wat oorgedra word deur die hantering van die vensterraam in bree stroke van koel kleure. Die antitese spreek terselfdertyd ook van die twee kante van Matisse as kunstenaar. Doe buitetoneel weerspieël Matisse se liefde vir komplekse patroonwerk en vir wat die oog kan sien (persepsueel), terwyl die binneruim (konsepsueel) sy sin vir orde wys en sy sin vir ekspressie van 'n emosie of gevoel. Waar die sintuie die buitetoneel waarneem, is daar amper 'n "sesde sintuig" aan die binneruimte aan die werk. Dis hier waar die toeskouer die plek van die kunstenaar aanvoel. Iemand moet tog deur daardie venster kyk! Wie aanskou die toneel vanuit die rustige interieur? Matisse verwys gedurig na kuns en die kunstenaar, soos in DIE ROOI ATELJEE 1909

Die gevolgtrekking is dus dat by OOP VENSTER TE COLLIORE  se buitetoneel aan die tradisie van die negentiende eeu behoort (Monet, Pointelisme)  en die binnetoneel wat konsepsueel is, en ‘n ekspressie van rustigheid bevat, deel van die modernistiese beweging  in kuns is wat in die Twintigste eeu posvat.Die vorms en kleure van OOP VENSTER TE COLLIORE word sorgvuldig balanseer. Die binnetoneel bevat vertikale bane terwyl die buitetoneel in horisontale bane opgedeel is. ‘n  Groot groen strook links word deur ‘n kleiner strook groen  aan die regterkant en veelvuldige groen stippels in die middel herhaal. Dieselfde gebeur met die pers kleur. Die oranje en blou op die vensterraam vind weer in die see en en die bote ‘n weerklank. Deur ‘n kleur met dieselfde intensiteit vir nabye sowel as veraf tonele te gebruik, word die hele toneel na die voorste prentvlak getrek.Lg is nog ‘n strewe van die nuwe generasie van skilders.....om NIE diepte-perspektief met normale metodes uit te beeld nie.

Die lesers sal oplet dat daar nie vlak in hierdie werk is wat “moeg” gewerk is nie. Matisse rebelleer teen klassieke realisme. Hy maak sy merk en los dit so. Dikwels kom mens die versigtige beplanning eers by ontleding van die geheel agter.

Matisse se bekende stelling was dat kuns soos ‘n gemaklike leunstoel moet wees. Die ekspressie waarna hy gestrewe het, was kalmte. Volgende keer kyk ons na een van die mees kalm, meevoerend rustige werke van die eeu, Matisse se ARABIESE KAFEE.

©Marie Theron 2015

 


Friday, November 7, 2014

Die Fauves, die Eerste Ekspressionistiese Groep van die 20ste Eeu

Dufy: Saint-Pierre de Montmartre et le Sacre-Coeur
PARYS
Oil on Canvas 47cm x 5.2cm

Aan die begin van die eeu was Parys die onteenseglike wêreldhoofstad van die skilder- en beeldhoukuns. Hier het Fauvisme ontstaan as die eerste belangrike nuwe beweging van die twintigste eeu en ook die heel eerste uitsluitlik ekspressionistiese beweging. Die groep het bestaan uit ‘n losgegroepeerde aantal kunstenaars wat dieselfde kreatiewe belangstellings gedeel het.  Die leidende figuur was Matisse en die ander Fauves was Braque,  Derain, Dufy, Vlaminck, Marquet, Rouault, Puy, Friesz en Van Dongen. Fauvisme was egter geen “skool” nie en het geen gesamentlike manifes uitgegee nie.

Die geleentheid waarop Fauvisme aan die publiek voorgestel was, was die Derde Herfssalon (Salon d’Automne) van 1905. Tydens die uitstalling het die kritikus Vauxcelles verbaas na ‘n klassiek-geinspireerde beelhouwerk van Marquet gekyk wat ter wille van kontras tussen die uitbundig gekleurde skilderye geplaas is . Sy opmerking: Donatello tussen die wilde diere! (Donatello au milieu des fauves) het aan die groep die etiket van Fauves besorg. Die Fauves is oor die algemeen koel ontvang en die uitstalling is deur die meeste kritici as 'n ernstige verlies aan prestige vir die Salon beskou. Vauxcelles het darem ten spyte van sy bekende opmerking, die Fauves verstaan. Ander positiewe kritici was Gide, Geffroy, Denis en Leo en Gertrude Stein. Die Steins koop Matisse se "Vrou met 'n Hoed" (hieronder) en sou getroue ondersteuners bly.


Matisse: "Vrou met 'n Hoed" 1905
Olie op Doek
79.4cm x 59.7cm
San Francisco Museum vir Moderne Kuns


Vol vertroue in hulle werk het die Fauves in 1906 'n verdere uitstalling by die Salon van Onafhanklikes gehou. Kom ons kyk na die vreugdevolle ekspressionistiese kleur in nog 'n paar voorbeelde.
De Vlaminck
Die Koringland 1906
25.5cm x 33cm

Derain: Charing Cross Bridge 1906 Oil on canvas. 31 5/8 x 39 1/2 inJohn Hay Whitney Collection. 1982.76.3.
 National Gallery of Art, Washington, D.C




Derian: London Bridge , London, Winter 1906
Olie op Doek
66cm x 99.1cm
M.O.M.A

Dufy: Regatta by Cowes 1934
Washington DC National Gallery of Art


'n Fees van Ekspressionistiese kleur! Volgende keer gaan ons binne-in die denk-wereld van Matisse!