Thursday, October 23, 2014

Die Ekspressiewe Waarde van die Mens en Menslike Vorm

In die vorige stuk was daar baie leeswerk waarin twee werke vergelyk was! Kom ons kyk vandag meesal prente en stel vas wat die menslike vorm vir ekspressiewe kunstenaars beteken. Ons het reeds diep ekspressie waargeneem in die werk van Picasso en Rouault. Om ons sien ons ook dikwels  wat ek noem "goedkoop ekspressionisme" waar hande gewronge is, trane loop, emosie wat mens probeer tap vir al wat dit kan! As iets so duidelik uitgespel word, raak die mens afgestomp. Hier volg 'n paar werke wat mens weer laat sien hoe suggestie blywend ekspressionisties kan wees.

Ons begin met 'n werk wat my altyd sal laat asem ophou en met vele vrese en voorbodes los,  De Chirico se "Mystery and Melancholy of a Street" 

De Chirico: "Mystery and Melancholy of a Street"
 1914. Oil on canvas
88 x 72mm Private Collection.
Is dit die meisie alleen in die laan met sy sterk perspektief, wat mens aanvoel? En kyk net die krag van ekspressie in die onverklaarbare skaduwee om die draai!

Van skaduwees na maskers; mense kruip mos agter maskers weg, maar wat die toeskouer vind is dat die maskers iets meedeel omtrent die mens daaragter. Maskers is dus dubbelsinnig, dit steek weg maar dit gee ook baie weg. Die grynslag van maskers dryf spot met die mens se vriendelikheid. Hier is die verf sommer ook heerlik ekspressief  aangewend in Nolde se "Masked Still Life III"

Emil Nolde: "Masked Still Life III"

Nolde se botsende kleure maak dit kru en een onderstebo masker verhoog die bizarre groep en laat die toeskouer die onheil aanvoel, sonder dat dit uitgespel word.

Die menslike oog sal iets wat in menslike proporsie en vorm voorkom, as "mens" ervaar. Ons almal het al in die lewe voorbeelde van antropomorfisme teegekom, bv die bottel-oopmaker in ons kombuise wat laat dink aan 'n mens met hande bo die kop. So kan die kunstenaar van antropomorfiese vorms gebruik maak om iets uit die menslike ervaringsveld mee te deel. Hier is Anthony Caro se "Night Movements"

Anthony Caro: "Night Movements" 1987-1990
Staal was groen gekleur en met was poleer is.
275.5 x 1077 x 335 cm
Die vorms is uiters sprekend en die toeskouer spin 'n verhaal as hy in hulle teenwoordigheid kom.

In 2009 is 18 miljoen dollars betaal vir een van die gewildste werke van die 20ste eeu: Giacometti se "Falling Man" 'n voorbeeld van hoe min nodig is om 'n kragtige ekspressie uit te druk! Drie woorde van 'n ware digter deel meer mee as die aanhoudende relaas van vele ander! Dis die gevoel wat ek persoonlik hieroor het.



George Segal, beeldhouer, het mensafdrukke in gips gegiet, perfek afgerond met detail en dit spierwit gelos. Kyk in die volgende twee fotos van "The Diner" en albei figure se eensaamheid en afsondering word deur die gebrek aan kleur beklemtoon:

Bo en onder: Segal: "The Diner" lewensgrootte beelde en installasie 1964 -66


Met hierdie beelde kyk Segal diep in die menslike psige en dra dieselfde emosies oor as die werke van Hopper.

Standbeelde en selfs winkelpoppe kan diep menslike ekspressie oordra. Dalk spandeer ek nog 'n hoofstuk aan hierdie idee van "ekspressie wat in menslike vorms skuil". Dalk wil die lesers idees bydra?  Kom ons kyk na die onrustige relaas wat De Chirico skep met sy "The Disquieting Muses":

Hierdie is 'n 1947 replika van The Disquieting Muses
deur De Chirico
Universiteit van Iowa Kunsmuseum

Die leegheid van die plein,  die skerp perspektief na agter wat 'n gevoel van vertigo wek,en die onsamehangendheid van die drie vorms maak dit inderdaad 'n onrustige werk.

Ek gaan eendag weer poppe en maskers bespreek, maar volgende keer streel ons die oog, met ekspressionisme waarin uitbundige kleur gebruik word.

Kopiereg Marie Theron 2014




2 comments: