Thursday, February 19, 2015

Matisse en die Ekspressie van Gemak

As mens dink aan Matisse, voel jy amper hoe die spanning van jou afrol. Ekspressie is daar, maar dis 'n ekspressie van kalmte. Hy bereik vir my 'n hoogtepunt daarmee in Die Arabiese Kafee. Soos baie van sy voorgangers, (Delacroix, Renoir) het Matisse graag Tangiers in Marocco besoek. Ek raai aan sy werk van luierende "odalisques" en rustige gange en vertrekke dat juis die stadiger pas van hierdie Afrika/Arabiese land 'n invloed op Matisse gehad het. Kom ons kyk na hierdie pragtige missie wat hy vir homself in kuns gestel het: 

What I dream of is an art of balance, of purity and serenity devoid of troubling or depressing subject matter - a soothing, calming influence on the mind, rather like a good armchair which provides relaxation from physical fatigue.
(Met dank aan brainyquote.com)

Die Arabiese Kafee 1912 -13
Olie op doek
210cm x 176cm
Hermitage Museum
In ARABIESE KAFEE 1913 met sy blou atmosfeer gee hy aan kleur ‘n eie ekspressionistiese stem.. Die monochroom veld wat die tweedimensionele vlak bevorder bou voort op die idee van DIE ROOI ATELJEE waar vloere en mure èèn word en dadelik die perspektief (en so die idee van drie-dimensionaliteit) teenwerk. In ARABIESE KAFEE word die blou kleur ook op die figure gebruik. Die atmosfiese blou lig dematerialiseer die figure. Daar is geen chiaroscuro, detail of modellering wat die oppervlak versteur nie. Die blou aura om die figure gee ‘n Cèzanne-agtige passage

ARABIESE KAFEE is soos baie van Matisse se werk suggestief van die oorpeinsing en ‘n byna voorwêreldse stilte.  Die arabiere staar na die visse wie se blou wêreldjie waarin hulle sweef ‘n metafoor vir die blou kamer is en dìt weer van die wyer blou universele  ruimte.. Die arabiere hier het geen tydsbegrip nie en lê in die foetusposisie, ‘n metafoor vir hulle getransformeerde staat waarin hede en verlede èèn word ( Bersoniese filosofie)

Matisse skilder ‘n raam om die werk, maar nie dìt òf die hoë Moorse boë in die agtergrond slaag daarin om die vertrek te anker nie,  wat moontlik ook die effek van opium ook kan suggereer.

Aan die leser: Die notas kom uit werk wat ek in die 1980's vir myself gedoen het, met die naam Kuns in Kompartemente:  I Die Ekspressionistiese tradisie in Twintigste Eeuse Kuns. Tipies van my optimisme wat met my weghardloop, het ek nog 5 of 6 tradisies opgesom om oor te skryf. Heerlike dae van navorsing in Die Universiteit van Natal se Durban-kampus argiewe was gevolg deur nagtelike asma en jeukende vel en oe, van die stof en miete wat uit 1950s tydskrifte gekom het, maar nouja, ons het verhuis na die Kaap , en die taak het bly staan! Met die oordra van komper na komper en program na program, het die font net absoluut sy eie wil. Dis waarom hier soveel font-tipes verskyn!

Wat 'n heerlike idee van genot! In die warm klimaat van Marocco het Matisse sy odaliskes in koel kamers geskilder. Kom ons laai vir die plesier een hier op! Vir Matisse, wat so lief was vir kleure en teksture, rus en kalmte was hierdie vroue 'n ideale onderwerp. Die harem-meisies kon so effens wegbeweeg van die strenger Moslem-wette. Hulle kleurvolle volbroeke, japonne en versierde hare, soos deur Matisse vasgele, bekoor die mensdom nog steeds. Gaan vind gerus nog "odalisques" deur Matisse op die Internet. Volgende keer: 'n Kleur-album van vroue deur Matisse.