Wednesday, October 8, 2014

Rouault

Die doel van my blog is om maklike riglyne te gee aan die vele reisigers en liefhebbers van kunswerke. Geen mens wil geintimideer wees deur streng akedemie wat aan sy gunsteling-werke so 'n "moenie aanraak en moenie praat" aura gee nie. Kom ons begin kyk na die redes waarom kunswerke die hart vinniger kan laat klop!

Ek "wiki" nie en die notas is my eie en uit my kop na baie jare se ondervinding en observasie. Raadpleeg gerus Wikipedia vir aanvulling en ook vir agtergrond oor die kunstenaars. Ek raak net aan hulle lewens as dit definitief relevant is vir die werke.

Die notas word sonder professionele taalversorging aangebied. Help my gerus reg as die taal verkeerd klink en ek sal dit regmaak as daar 'n skreiende fout is.



ROUAULT

Dit word algemeen aanvaar dat Die Brücke, Kokoscka en ander Noord-Europeërs die essensie van die ekspressionisme baie goed vertolk het.   Frankryk het egter ook ‘n bydrae gelewer. Die uitstekende onderrig van Moreau, wat sy studente aan Simbolisme bekend gestel het, was die katalis vir die style van Rouault  en Matisse.

Rouault is die minste “tipies” van die Fauves (die eerste groot beweging van die 20ste eeu) en vertolk alreeds in sy werk die meer gefolterde vorms van ekspressionisme. Sy werk staan in die oorgang van simbolisme na ekspressionisme en het selfs iets in gemeen met Munch en Ensor. In die meeste van Rouault se werke vind ons die menslike vorm, wat in sigself baie ekspressionisties is, en kommentaar op die menslike lewens.



In VOOR ‘n SPIEËL 1906 en ODELISQUE 1907 lewer die diep-godsdienstige Rouault bytende kommentaar op die euwels van die gemeenskap. Die toeskouer staan in ‘n direkte ontmoeting met die prostituut, want sy vul die formaat en word vorentoe gedruk tot teenaan die prentvlak. Hier is geen klassieke idealisering van die vrou nie. Die romantisering van die vrou soos by Gauguin ontbreek totaal, so ook die simpatieke siening van Lautrec. In albei hierdie werke spreek die aggressie van ‘n roofdier uit die meisies se houding en gevoellose maskeragtige gesigte.

Die blou kleur oorheers in albei werke, en die geelbleek liggame, met blou geskakeer lewer kommentaar op die ongesonde nagtelike lewe van die meisies. Die buitelyne is oor en oor gekorrigeer, soos ‘n kind wat soek na vorm. Hierdie oorwerkte buitelyne vorm die unieke basis van Rouault se styl. Soos by Van Gogh se kaphale, leef Rouault sy persoonlike gevoel teenoor die onderwerp uit.


KOP VAN ‘n TRAGIESE HANSWORS toon weereens die menslike konflik: simbole wat vir plesier staan, is in werklikheid tragies..  Die glasvenstertegniek wat deur dik swart lyne verkry word, is evokatief van katedrale en verteenwoordig ook so Rouault se godsdienssin. Terselfdertyd verwys dit na Rouault se vakmansskap in glasskilderwerk op 14-jarige ouderdom.


Die olieverf skildery DIE OU KONING, 'n laat werk van 1937 is sekerlik baie van julle se gunsteling Rouault.  Hier het hy sy volwasse styl bereik. Die werk het ‘n hewige tekstuur wat ‘n metafoor is vir die koning se swaarmoedigheid. Die beweginglose hand word met diè tegniek beklemtoon. Net soos by die waterverfskilderye  (VOOR ‘n SPIEËL en ODELISQUE ) waar Rouault  sy lyne oorwerk het ter wille van ekspressie, is die buitelyne hier ook nie solied nie maar is baie lyne oormekaar aangebring soos wat die kunstenaar die absolute essensiële vorm soek. Laag op laag kleur word neergelê en verryk  met steeds dikker wordende impasto. Die gloed wat agter die kleur le, wys weereens op die glasvester tegniek. Die Suid-Afrikaanse kunstenaar, Cecil Higgs, het tydens haar verblyf in Europa die volgende van Rouault gesê:

“With the rough, furious simplicity of his technique, the subtlety is remarkable, the sensitiveness of a movement to express a mouth, to give meaning to a face: form expressing feeling with the utmost boldness & the greatest delicacy & spareness.”*
( Dieter Bertram: CECIL HIGGS Close Up, William Waterman Publications, p 34.)







4 comments:

  1. Marie, thank you so much for sharing this with us. I've enjoyed every word and painting. Looking forward to your next post!

    ReplyDelete
    Replies
    1. Afrikaans in Auz! Ek is baie gelukkig daaroor, en welkom hier, Raaitjie!

      Delete
  2. ek is nie bekend met sy werk nie, so dit was nou baie interessant - dankie marie.

    ReplyDelete
    Replies
    1. Dan is ek baie bly, want sy werke, veral die lateres was baie treffend!

      Delete

There was an error in this gadget