Thursday, July 16, 2015

Die Invloed van Primitivisme op Ekspressionisme

Die wonder van ekspressionisme was dat kunstenaars baie sterk begin rondkyk het na alle kunsvorms wat ekspressie kon weergee. Die soeke was nie bekend in vorige eeue nie, toe die opleiding streng klassiek was en ‘n student geskilder het wat hy sien, sonder verwringing. (immer die beste basis vir kuns, alhoewel mens later kan eksperimenteer) Ek het die volgende bronne isoleer waar kunstenaars soos Die Fauves, Picasso en die Duitse Ekspressioniste, onder andere, na primitivisme begin kyk het vir inspirasie.

1. AFRIKA KUNS 

Picasso vrou en Wes Afrika masker

                                                                 This 19th-century Fang mask is similar in style to what Picasso 
      encountered in Paris just prior to Les Demoiselles d'Avignon.
Afrika Kuns staan bo-aan die lys. Soos wat die Trocadero gevul wat met Afrika maskers, het kunstenaars soos Picasso die skerp geagiteerde lyne begin waarneem, en die sterk emosie wat agter Afrika kuns skuil begin vertolk. Picasso, Matisse en baie ander kunstenaars het ook self sulke maskers aangeskaf om in hulle ateljees te hang. 

1. 2. DIE PRIMITIEWE (natuurlike) LEEFWYSE 

    Om na eilande en eksotiese plekke te gaan, was deel van die bekoring van primitivisme. Gauguin se lewe was ‘n goeie voorbeeld hiervan want soos hy selfs die leefwyse van die Polinisiese eilande aangeneem het, het hy wonderlike temas vir sy kuns bekom. Later het van die kunstenaars soos Kirchner, Smidt-Rotluff en Pechstein en ander lede van Die Brücke op uitstappies elke somer na die mere van St Moritzburg gegaan en ‘n boheemse leefwyse gelei. Hier het hulle nudisme beoefen en so natuurlik moontlik gelewe en hulle kuns geskep. Dit was in lyn met ‘n kultus van nudisme wat in Duitsland aan die ontwikkel was. Waarin lê die waarde van so ‘n leefstyl? Die lesse wat daaruit geleer was, was dat mens nie soos in die Westerse wêreld ‘n “front” hoef op te hou nie. Hulle leefwyse daar was ‘n vorm van kritiek op kapitalisme en al die voorskrifte van die Europese lewe. En ja, pragtige kuns het daaruit gevloei wat nie sonder die primitiewe leefwyse sou gebeur het nie! In hulle werke gebruik hulle oordrewe kleure, bv geel-oranje liggame om met blou-groen water te kontrasteer en tonele wat aan 'n paradyslike bestaan herinner.


                                                         Karl Schmidt-Rottluff 1884–1976
Title
Two Women
Zwei Frauen
Date1912
MediumOil paint on canvas
DimensionsSupport: 765 x 845 mm
frame: 912 x 950 x 64 mm
Collection
Tate

Pechstein: The Killing of the Banquet Roast


   3. PRIMITIEF-NAIëWE KUNS

Meester van sy eie kraal was  Henri Rousseau. Hy het geen akedemiese opleiding gehad nie, maar net geskilder uit sy eie verbeelding. Dis besonders watter dekoratiewe vorms en lynwerk, uitstekende tonale waarde en diep gevoel van misterie hy geskep het. Rousseau was gerespekteer deur die kunstenaars van sy tyd!  Sy vreemde woorde aan Picasso word goed onthou!

"You and I," said Henri Rousseau, sincerely addressing his host Pablo Picasso, "are the two most important artists of the age - you in the Egyptian style, and I in the modern one."

The Snake Charmer by Henri Rousseau

4. KINDERKUNS

Met die belangstelling in die psigo-analise word daar in die twintigste eeu met nuwe oë na kinderkuns gekyk. Die digter Baudilaire beskryf genialiteit as  die “willekeurige herwinning van kindwees” In kinderkuns het die naiëwe weergawe van die buitelyn of basiese vorm ook dikwels die vermoë om innerlike waarhede te ontbloot. Die kind beplan dit nie en bereik dus onkorrupte ekspressie. Kinders skep direk uit hulle eie ervaring en sonder idealisering. Ekspressionistiese kunstenaars probeer soos kinders die vermoë ontwikkel om met ‘n ongekompliseerde tegniek enorme krag uit te straal. Ingekrabbelde agtergronde, onvoltooid- of oorvoltooidheid, die onmiddelikheid wat verkry word deur te skilder sonder voorbereiding, en die ontbreking van chiaroscuro word vir die kunstenaars van die twintigste eeu waardevolle elemente tot ekspressie. In PIENK UIE 1906 toon Matisse ‘n doelbewuste onbeholpenheid  Om notisie te neem van kinderkuns was so belangrik vir die ontwikkeling van  20ste eeuse Ekspressionisme. Ons lees die spoor van kinderkuns in die speelsheid van Picasso, die soek na vorm by Rouault, die onskuld en skoon kleure van Marc, die agiterende, soms woedende vorms van Nolde, die amper outomatiese leef in die werk in van Pollock, en die onvermengde kleure van baie 20ste eeuse kunstenaars.



   5. IMAGES d’EPINAL

Images d’ Epinal was n tipe volkskuns sinoniem met die Franse : dit was afdrukke,  etse en rowwe houtafdrukke in hulle naiëwe uitvoering was ook met die hand ingekleur. Die temas was meesal patrioties of moralisties van aard byvoorbeeld fabels, geskiedenis van Napoleon, ensovoorts. Dit was tipiese populêre “kitsch” en het in baie huise gehang, ‘n ekwiwalent van Middeleeuse houtsneewerk.  Die blote feit dat kunstenaars daarvan notisie geneem het, was ‘n moderne neiging. Binne etlike jare het koerante, buskaartjies, teaterprogramme en goedkoop linoleum ook  as inspirasie vir kunstenaars begin dien. Die belang hiervan lê daarin dat historiese taferele en Griekse legendes plek gemaak het vir waarneming van die eie tyd.



 Die alledaagse lewe wemel van idees vir ekspressionisme! Daarby gee dit later ook ‘n goeie beeld van die kunstenaar se tyd waarin hy lewe, weer.


Die blote feit dat kunstenaars daarvan notisie geneem het, asook van alle vorms van primitivisme, was ‘n moderne neiging. Dit staan by alle ander invloede as 'n fondasie vir ekspressionisme!







Sunday, May 3, 2015

Picasso: die Beginjare

Ek het nogal lank gekou oor hierdie vraag: Wie was die belangrikste, mees  innoverende kunstenaars van die 20ste eeu. My kandidate moes so wees, dat as mens een pen uittrek, die geheel sal platval, want 'n hele reeks goed sou vanwee hulle afwesigheid nooit gebeur het nie. My keuse het geval op Matisse, Picasso, Kandinsky en Duchamp. Ons kan hulle bedank of verwens, maar hulle rigting-aanduidende invloed was reusagtig. Hulle was op die voorfront van vernuwing.

Terug na ons tema: ekspressionisme! Die moderne kuns sal ondenkbaar sonder die bydrae van Picasso wees. Hy het ‘n bydrae tot die meeste kunsbewegings gelewer, en was in baie gevalle die instigeerder van nuwe rigtings. Picasso was van sy jongste dae in Parys reeds in staat tot die uitdrukking van vele emosies.


Picasso: Die Einde van die Pad 1898-9
Olie was en Conte Kryt op papier
Solomon Guggenheim Museum, New York


In 1900 arriveer Picasso in Parys. Die sogenaamde BLOU  PERIODE staan in sy oorgangstydperk van simbolisme na ekspressionisme en formalisme. Dit is sy brandarm jare en hy is met lyding behep. DIE EINDE VAN DIE PAD 1898 dui op die soort oordrewe simbolisme wat ‘n tipiese jong kunstenaar van daardie era sou aanhang. Geboë arm mense beklim ‘n pad na ‘n hek waar die doodsengel wag. Die ryk mense stuur op dieselfde katastrofe af, maar in stylvolle koetse. Die verlengde figure wys die invloed van El Greco. Die ekspressie en moralisering is ‘n produk van Picasso se sosialistiese sentimente. Die laat negentiende eeuse simbolisme spreek sterk uit die werk.

Picasso: Vrou wat stryk 1901-4
Solomon Guggenheim Museum, New York

VROU WAT STRYK  is weereens vol simpatie met die geëksploiteerdes. Waar Degas se werk met dieselfde titel die rustige voorkoms van genre het, lê Picasso eerder klem op die patos van armoede deur middel van die verskerpte gesig, oordrewe geboë figuur en die grys-blou melankoliese kleurskema. Al strook die oordrewe sentiment met wat ons soetsappig sal noem, mag die blou periode van Picasso nie minag word nie. Dit was uit die hart geskilder en  wys die insig in menslike lyding wat  van Picasso ‘n sterk ekspressionis sou maak met hoogtepunte soos GUERNICA 1937 .

Picasso Die Akrobaat se Familie met 'n Aap 
collage, gouache, watercolor, pastel en Indiese ink op karton
104 x 75 cm, Göteborgs Konstmuseum, Goteburg

In die rustiger ROOSPERIODE maak patos en melankolie plek vir ‘n sagte klassieke skoonheid. Die invloed van Griekse witagtergrond vase kan aan die ligte veeg-agtige skilderstyl gesien word. LA TOILETTE bestaan uit twee figure in klassieke Doriese proporsies en die tipe intieme huislike toneel wat witagtergrond vase gekenmerk het. Die Renaissance se sacred and profane love-temas word  in hierdie werk herroep met èèn geklede en èèn naak figuur. In LA TOILETTE heers daar ‘n uitdrukking van harmonie en tydloosheid wat selfs  Picasso se hoog akedemiese tydgenoot Puvis de Chavannes nie kon bereik nie. In die narre en harlekyne van diè tydperk beoefen Picasso die verlenging en hoekigheid van El Greco en die tekenkwaliteit van Ingres.

Picasso: Portret van Gertrude Stein 1906-7
81.3cm - 100cm
Metropolitan Museum of Art, New York

Omstreeks 1906 maak Picasso met Iberiese werk in die Louvre en Afrika beeldhouwerk in die Trocadero kennis. Sy werk word met ‘n gevoel van soliede massa, sterk reliëf en ‘n fassetering in hoekige vlakke gekenmerk. In ‘n poging om Picasso te kompartementaliseer word daar na dikwels na DIE AFRIKA PERIODE verwys. PORTRET VAN GERTRUDE STEIN  (haar gesig en hande vul die formaat soos die Mona Lisa) wys dat Picasso nie slegs visueel nie, maar ook emosioneel teenoor die primitivisme reageer . Daar is besondere oordrewing van detail in die gesig. Die wangbene, oë, neus en mond is sterk gebeeldhou soos 'n Afrika masker.

Picasso:Naakfiguur (driade) in die Oerwoud 1908
Olie op doek 108cm x185cm
Hermitage, St Petersburg
NAAKFIGUUR IN DIE OERWOUD het ‘n mistieke vrees-inboesemde teenwoordigheid. In diè werk, sowel as KOP EN SKOUERS VAN ‘n VROU word die format met groteske figure gevul wat groter as die lewe vertoon. Daar word aan die bonatuurlike ekspressie gegee met uitdrukkingslose oë, ongenaakbare mond en hoekige wangbene. Die aanmekaar wenkbrou-tot-neus lyn en die oordrewe kop wat bo gerond en by die ken gepunt is, word nou deel van Picasso se ikonografie. 

Op my volgende geselsie wil ek uitbrei oor die term primitivisme, wat nie slegs op Afrika beelde van toepassing was nie. Kunstenaars was ook beinvloed deur primitief-naiewe skilders, kinderkuns en  images d' epinal. Daarna sal ons verder kyk na die ryk kunsloopbaan van Picasso.

Hier is die skakel na 'n besonder leersame dokumentêre film oor Picasso

Sunday, March 29, 2015

Matisse: Hernude en Finale Suiwering

Ek sien so uit om hierdie hoofstuk oor Matisse te skryf, oor sy werk van die 1930's en later, en ek hoop my lesers gaan aangesteek word met entoesiasme. Ek "google" nie my notas nie. Dis reeds baie jare voor die era van die Internet geskryf. ( maar danksy die Internet kan die pragtige kleurfotos nou bygelas word ) Ek is dankbaar vir elke leser, maar sal ook graag kommentaar wil ontvang. Is daar al Afrikaanse skoliere en studente wat hierby baat vind? En reisigers na ander lande?

DIE DANS I
260cm X 390cm
Olie op doek
MOMA New York
Daar is min mense wat nie DIE DANS I 1932 herken en nie daardeur getref word nie. In die sirkel van figure is daar weereens die ewigheids idée wat simbolisties word van tyd sonder begin of einde. Matisse gebruik variasies die universele palet van vier kleure van Egiptiese muurskildering naamlik groen vegetasie, blou lug, oker woestyn en rooibruin wat aarde en aardsheid simboliseer. Daar is ook in verwysings na die drie muse tipe sirkeldanse uit klassieke kuns. Dink aan "the three graces" in Raphael se Primavera. Wat lees mens alles hier in Matisse se vreedsame, ongebonde toneel: vryheid, die viering van vroulikheid, onselfbewuste naaktheid en genot van beweging! Ek lees ook die gedagte: "groter as alles" en "dis al wat tel". Vergroot DIE DANS I so groot as wat julle kan, kyk daarna, en vertel my hieronder wat julle sien en voel. Voel, ja, want Matisse was 'n ekspressionis!

MUSIC (LA MUSIQUE) 1939

Die reusedoek MUSIEK 1939 is van hoek tot kant met suiwer ligweerkaatsende kleur gevul. Die kleure in hierdie werk, sowel as DIE OKER KOP 1937,  DAME IN BLOU 1937 en DIE ROMEENSE BLOESE 1940 toon nog variasies van die Egiptiese kleurskema wat altyd vir Matisse werk. 


DIE DANS I en II het ‘n hernude suiwering in Matisse se kuns tot gevolg gehad. Hy laat vaar grotendeels die detaillering, patrone, teksturering en die volumetriese uitbeelding van die twintigerjare. Perspektief, wat die prentvlak met ligter atmosferiese kleur kan verswak, word heeltemal tersyde gelaat.

THE DANCE II - Barnes Foundation
In 1932 lei ‘n opdrag vr die panele vir Barnes Foundation weer na die vereenvoudiging terug. THE DANCE II is ‘n werk waarin ’n gevoel van utopiese oorgawe met vloeïende ritme uitgebeeld word. Agt dansers in grys op ‘n agtergrond van blou, pienk en swart vul die boogvormige nisse bokant die gebou se vensters. Dit is 15 meters lank en 3,3 meters hoog. Matisse  het sy taak vergemaklik deur volgrootte vorms uit papier wat met gouache geverf is, te gebruik om die interaksie van kleur te toets voor die finale skildering in olie! Hierdie was ‘n prototipe van sy gouache dècoupèe van sy latere jare.

MUSIC (LA MUSIQUE) 1939
 Die reusedoek MUSIEK 1939 is van hoek tot kant met suiwer ligweerkaatsende kleur gevul. Die kleure in hierdie werk, sowel as DIE OKER KOP 1937,  DAME IN BLOU 1937 en DIE ROMEENSE BLOESE 1940 toon nog variasies van die Egiptiese kleurskema wat altyd vir Matisse werk. 

Matisse se lewenstaak word saamgevat in die werk aan die Dominikaanse Katedraal in Vence wat hy in die 1940’s uitvoer. Eerder as om die donker somber tradisie in katedraal voorkoms voort te sit, skep Matisse witgeteëlde binneruime soos by Moorse moskees as inspirasie. Met die suiwerste  ontwerpe vir die toring, glasvensters, muurversierings en altaarstukkke bereik Matisse die hoogste vorm van spirituele ekspressie. By Vence gee hy uiting aan sy strewe na ‘n totale harmonie wat aan ‘n musikale komposisie gelykstaan. Hy soek, en vind suiwerheid, balans en sereniteit.

Die Matisse Katedraal by Vence 1940
Elke detail is deur Matisse beplan en uitgevoer

Eenvoud eerste! Dominikaanse Katedraal te Vence.


In sy rype sewentigerjare lewer Matisse werke in briljante vlak kleurwerk byvoorbeeld STILLEWE OP ‘N BLOU TAFEL 1947 en DIE EGIPTIESE GORDYN 1948. 

Die Egiptiese Gordyn 1984


Stillewe op 'n Blou Tafel 1947

Het Matisse soms geglimlag oor die Kubiste en hulle vroeg_twintigste eeuse collage? Hier vind hy ‘n uitstekende manier van collage uit wat gouache découpée genoem word.  Van hierdie werke in suiwer kleur gaan hy maklik as invalide oor na die gouache découpée. Die proses kon vanuit ‘n bed of rystoel georganiseer word. Hy bly ‘n kreatiewe innoveerder, laat groot stukke papier volgens sy kleurspesifikasies met gouache skilder, knip die vorms met ‘n seker hand uit en laat ‘n assistent alles op die regte plek op doek vasbring.  Die vorms is uiters treffend en wys die genialiteit van Matisse maar ook die jare se skoling in soeke na die essensie van vorm wat agter lê. 


Die Diere van die See 1950

Die Duisend-en Een Nagte 1952

Apollo 1953-4

Zulma 1950
Met gemengde gevoellens, ja byna hartseer, neem ek nou afskeid van Matisse. Maar met die wete dat die kennis oor hom altyd uitgebrei kan word. Een van die grootste figure in twintigste eeuse ekspressionisme, gaan net aan en aan.  Hier is wat beskou word as Matisse se finale groot werk: DIE SMART VAN DIE KONING.




The Sorrows of the King 1952
Gouache op papier op doek
368cm x 292cm
Pompidou Sentrum, Parys.




In DIE SMART VAN DIE KONING 1952 (LA TRISTESSE DU ROI) toon Matisse dat hy die belangrike ontwikkelings van die eeu absorbeer het. Die werk roep Picasso se Laat-Sintetiese Kubisme soos in die New York DRIE MUSIKANTE 1921 op. Dit toon die kombinasie van helder kleur en ritmiese biomorfiese vorms van die laat-Kandinsky-werke byvoorbeeld KOMPOSISIE IX NO 626 1936. Daarby het dit ook die surrealistiese ondertone van Miro se werk soos  DIE HARLEKYN SE KARNIVAL 1924-5. Die werk is deur Rembrandt se  "Saul en Dawid"  waar David vir die depressiewe Saul musiekmaak, geinspireer.

Soos deur sy hele oevre blyk dit dat ook in DIE SMART VAN DIE KONING dat
Matisse ‘n ekspressionis is. Saul hou ‘n musiekinstrument vas en Dawid hou waarskynlik ‘n tamboeryn vas. ‘n Danseres is met absolute ekonomie van lyn weergegee: twee delikate dansende voete, twee ronde swart vorms vir borste en die rand van ‘n swaaiende rok. Hierdie danseres is die laaste woord in die soeke na die essensie van ‘n danser wat reeds in La Serpentine en Dans I en II begin is.

Die werk is outobiografies en simboliseer Matisse wat oor sy lewe terugkyk. Dit toon beelde uit die lewe van Matisse: Die groen-geklede odalisque wat gemaklik terugsit, die danseresse waarvoor hy lief was, musiek waarvan die note soos veerligte blare die vertrek vul.

En ek gaan nie afstap van Matisse voordat ek hierdie boek noem nie: 'n Boek wat oor die tweede helfte van sy loopbaan gaan , en hom deur WW II neem tot in sy laaste jare. My man het eendag met die boek ingeloop, en dit was baie dae se heerlike leesgenot:  

 
 
En nou 'n finale bonus: Die heerlikste webwerf oor Matisse: https://www.artsy.net/artist/henri-matisse
 
GENIET!







Saturday, March 21, 2015

Matisse: Patroon op Patroon

Matisse se vroue is gemaklik en rustig en hy gee 'n universele siening van vroue weer wat bereikbaar is vir die toeskouer. In die twintigerjare ontspan Matisse tydelik die vereenvoudiging van die prentvlak. Sy vrouefigure word volmetries in plaas van vlak uitgebeeld. Die struktuur en chiaroscuro van CARMELINA word weer gebruik in TWEE VROUE IN ‘N BINNERUIM 1920 en in VROU MET ‘N GOUDVISSIE 1921 asook ‘n reeks odeliskes, sommige in die grafiese media en ander in olieverf.

Kom ons verlustig ons vereers in die kleurvolle uitbeeldings van vroue deur Matisse. Hier is 'n kunstenaar wat hou van vereenvoudiging, maar terselfdertyd versot is op patrone veral die wat in tekstiele, binneversiering en klere gesien word.

Henri Matisse. The Algerian Woman. 1909. Oil on canvas. 
Musee National d'Art Moderne, Centre Georges Pompidou, Paris, ...

Matisse, Odalisque in Yellow Robe - 1937





Kom ons bespreek vir oulaas een van hierdie werke van die 1920's, uit die tyd voordat Matisse tot sy groot vereenvoudiging oorgegaan het. DIE MOORSE SKERM 1921 is weereens ‘n groot werk en som Matisse se belangstelling in die twintigerjare op. Die prentvlak is vervlak sodat alles na vore tilt. Die meisies is egter volumetries uitgebeeld en ons word weereens bewus van raaisel en paradoks in die werk. Daar is baie teksture en dit bevredig Matisse periodieke onversadigbare liefde vir ingewikkelde oosterse ontwerpe. Die patone van die oosterse matte, die moorse skerm en die muurpapier kry verdere kompetisie van die blomme en die traliewerk in die kamer. Mens mag dalk veronderstel dat Matise wat dikwels Marocco besoek het, van hierdie matte en tekstiele na Nice geneem het.

Matisse 1921. Die Moorse Skerm Olie op Doek.
 Philidelphia Kunsmuseum
Die veelvuldige ontwerpe vorm ‘n kontras met die meisies wat vars in spierwit rokke, kouse en skoene vertoon . Hiermee lê Matisse ook vir ons die lewenslustige gees van die twintigerjare vas. Die kortgeknipte haarstyle , lang krale, korter rokke en hoëhakskoene dokumenteer verder die era waarin die werk geskilder is. In 'n volgende hoofstuk kan ons kyk na die verandering in Matisse se werk na 1932, wanneer hy ons gaan boei met van die mooiste vereenvoudigings in kuns, en prente met universele bekoring.

Thursday, February 19, 2015

Matisse en die Ekspressie van Gemak

As mens dink aan Matisse, voel jy amper hoe die spanning van jou afrol. Ekspressie is daar, maar dis 'n ekspressie van kalmte. Hy bereik vir my 'n hoogtepunt daarmee in Die Arabiese Kafee. Soos baie van sy voorgangers, (Delacroix, Renoir) het Matisse graag Tangiers in Marocco besoek. Ek raai aan sy werk van luierende "odalisques" en rustige gange en vertrekke dat juis die stadiger pas van hierdie Afrika/Arabiese land 'n invloed op Matisse gehad het. Kom ons kyk na hierdie pragtige missie wat hy vir homself in kuns gestel het: 

What I dream of is an art of balance, of purity and serenity devoid of troubling or depressing subject matter - a soothing, calming influence on the mind, rather like a good armchair which provides relaxation from physical fatigue.
(Met dank aan brainyquote.com)

Die Arabiese Kafee 1912 -13
Olie op doek
210cm x 176cm
Hermitage Museum
In ARABIESE KAFEE 1913 met sy blou atmosfeer gee hy aan kleur ‘n eie ekspressionistiese stem.. Die monochroom veld wat die tweedimensionele vlak bevorder bou voort op die idee van DIE ROOI ATELJEE waar vloere en mure èèn word en dadelik die perspektief (en so die idee van drie-dimensionaliteit) teenwerk. In ARABIESE KAFEE word die blou kleur ook op die figure gebruik. Die atmosfiese blou lig dematerialiseer die figure. Daar is geen chiaroscuro, detail of modellering wat die oppervlak versteur nie. Die blou aura om die figure gee ‘n Cèzanne-agtige passage

ARABIESE KAFEE is soos baie van Matisse se werk suggestief van die oorpeinsing en ‘n byna voorwêreldse stilte.  Die arabiere staar na die visse wie se blou wêreldjie waarin hulle sweef ‘n metafoor vir die blou kamer is en dìt weer van die wyer blou universele  ruimte.. Die arabiere hier het geen tydsbegrip nie en lê in die foetusposisie, ‘n metafoor vir hulle getransformeerde staat waarin hede en verlede èèn word ( Bersoniese filosofie)

Matisse skilder ‘n raam om die werk, maar nie dìt òf die hoë Moorse boë in die agtergrond slaag daarin om die vertrek te anker nie,  wat moontlik ook die effek van opium ook kan suggereer.

Aan die leser: Die notas kom uit werk wat ek in die 1980's vir myself gedoen het, met die naam Kuns in Kompartemente:  I Die Ekspressionistiese tradisie in Twintigste Eeuse Kuns. Tipies van my optimisme wat met my weghardloop, het ek nog 5 of 6 tradisies opgesom om oor te skryf. Heerlike dae van navorsing in Die Universiteit van Natal se Durban-kampus argiewe was gevolg deur nagtelike asma en jeukende vel en oe, van die stof en miete wat uit 1950s tydskrifte gekom het, maar nouja, ons het verhuis na die Kaap , en die taak het bly staan! Met die oordra van komper na komper en program na program, het die font net absoluut sy eie wil. Dis waarom hier soveel font-tipes verskyn!

Wat 'n heerlike idee van genot! In die warm klimaat van Marocco het Matisse sy odaliskes in koel kamers geskilder. Kom ons laai vir die plesier een hier op! Vir Matisse, wat so lief was vir kleure en teksture, rus en kalmte was hierdie vroue 'n ideale onderwerp. Die harem-meisies kon so effens wegbeweeg van die strenger Moslem-wette. Hulle kleurvolle volbroeke, japonne en versierde hare, soos deur Matisse vasgele, bekoor die mensdom nog steeds. Gaan vind gerus nog "odalisques" deur Matisse op die Internet. Volgende keer: 'n Kleur-album van vroue deur Matisse.


Thursday, January 15, 2015

Oop Venster by Colliore

Matisse: Oop Venster te Colliore 1905
Olie op doek
55.3 cm × 46 cm (21 34 in × 18 18 in)
National Gallery of Art, Washington D.C.

Onthou dat in hierdie nuwe eeu daar nie net op nabootsing van die natuur gefokus word nie, maar ook op die “proses” van kunsmaak

OOP VENSTER BY COLLIORE 1905 is ‘n ikoniese werk wat ‘n ouer styl sowel as ‘n meer modernistiese styl bevat  en dus ‘n oorgangswerk is. Matisse is een van die groot innoveerders van die Twintigste eeu, wat nuwe maniere van kuns beplan uitgedink het.  Hy het beslis sy werke goed deurdink .

Die ekspressie van kalmte wat in Matisse se latere werke tot die toeskouer spreek, manifesteer alreeds in die werk uit die Fauve-tydperk. Hy ontwikkel ook vroeg reeds sy vermoë om elke motief en komposisionele element met betekenis te laai. 

OOP VENSTER BY COLLIORE  toon 'n binnekamer met 'n deur of venster na buite. Oop vensters het dwarsdeur Matisse se lewe een van sy gunsteling-temas gebly. Die werk skep twee werelde. Die eerste is die van die buitewereld en die persepsuele ervaring van water en bote, lewe en aksie, wat in helder Impressionistiese stippels weergegee het. (Matisse se eerste wegbreek van klassieke realisme was juis deur die pointellis Signac se tegniek te gebruik.) Die tweede toneel is die kalm binneruimte van die vertrek, 'n gevoel wat oorgedra word deur die hantering van die vensterraam in bree stroke van koel kleure. Die antitese spreek terselfdertyd ook van die twee kante van Matisse as kunstenaar. Doe buitetoneel weerspieël Matisse se liefde vir komplekse patroonwerk en vir wat die oog kan sien (persepsueel), terwyl die binneruim (konsepsueel) sy sin vir orde wys en sy sin vir ekspressie van 'n emosie of gevoel. Waar die sintuie die buitetoneel waarneem, is daar amper 'n "sesde sintuig" aan die binneruimte aan die werk. Dis hier waar die toeskouer die plek van die kunstenaar aanvoel. Iemand moet tog deur daardie venster kyk! Wie aanskou die toneel vanuit die rustige interieur? Matisse verwys gedurig na kuns en die kunstenaar, soos in DIE ROOI ATELJEE 1909

Die gevolgtrekking is dus dat by OOP VENSTER TE COLLIORE  se buitetoneel aan die tradisie van die negentiende eeu behoort (Monet, Pointelisme)  en die binnetoneel wat konsepsueel is, en ‘n ekspressie van rustigheid bevat, deel van die modernistiese beweging  in kuns is wat in die Twintigste eeu posvat.Die vorms en kleure van OOP VENSTER TE COLLIORE word sorgvuldig balanseer. Die binnetoneel bevat vertikale bane terwyl die buitetoneel in horisontale bane opgedeel is. ‘n  Groot groen strook links word deur ‘n kleiner strook groen  aan die regterkant en veelvuldige groen stippels in die middel herhaal. Dieselfde gebeur met die pers kleur. Die oranje en blou op die vensterraam vind weer in die see en en die bote ‘n weerklank. Deur ‘n kleur met dieselfde intensiteit vir nabye sowel as veraf tonele te gebruik, word die hele toneel na die voorste prentvlak getrek.Lg is nog ‘n strewe van die nuwe generasie van skilders.....om NIE diepte-perspektief met normale metodes uit te beeld nie.

Die lesers sal oplet dat daar nie vlak in hierdie werk is wat “moeg” gewerk is nie. Matisse rebelleer teen klassieke realisme. Hy maak sy merk en los dit so. Dikwels kom mens die versigtige beplanning eers by ontleding van die geheel agter.

Matisse se bekende stelling was dat kuns soos ‘n gemaklike leunstoel moet wees. Die ekspressie waarna hy gestrewe het, was kalmte. Volgende keer kyk ons na een van die mees kalm, meevoerend rustige werke van die eeu, Matisse se ARABIESE KAFEE.

©Marie Theron 2015

 


There was an error in this gadget