Sunday, May 3, 2015

Picasso: die Beginjare

Ek het nogal lank gekou oor hierdie vraag: Wie was die belangrikste, mees  innoverende kunstenaars van die 20ste eeu. My kandidate moes so wees, dat as mens een pen uittrek, die geheel sal platval, want 'n hele reeks goed sou vanwee hulle afwesigheid nooit gebeur het nie. My keuse het geval op Matisse, Picasso, Kandinsky en Duchamp. Ons kan hulle bedank of verwens, maar hulle rigting-aanduidende invloed was reusagtig. Hulle was op die voorfront van vernuwing.

Terug na ons tema: ekspressionisme! Die moderne kuns sal ondenkbaar sonder die bydrae van Picasso wees. Hy het ‘n bydrae tot die meeste kunsbewegings gelewer, en was in baie gevalle die instigeerder van nuwe rigtings. Picasso was van sy jongste dae in Parys reeds in staat tot die uitdrukking van vele emosies.


Picasso: Die Einde van die Pad 1898-9
Olie was en Conte Kryt op papier
Solomon Guggenheim Museum, New York


In 1900 arriveer Picasso in Parys. Die sogenaamde BLOU  PERIODE staan in sy oorgangstydperk van simbolisme na ekspressionisme en formalisme. Dit is sy brandarm jare en hy is met lyding behep. DIE EINDE VAN DIE PAD 1898 dui op die soort oordrewe simbolisme wat ‘n tipiese jong kunstenaar van daardie era sou aanhang. Geboë arm mense beklim ‘n pad na ‘n hek waar die doodsengel wag. Die ryk mense stuur op dieselfde katastrofe af, maar in stylvolle koetse. Die verlengde figure wys die invloed van El Greco. Die ekspressie en moralisering is ‘n produk van Picasso se sosialistiese sentimente. Die laat negentiende eeuse simbolisme spreek sterk uit die werk.

Picasso: Vrou wat stryk 1901-4
Solomon Guggenheim Museum, New York

VROU WAT STRYK  is weereens vol simpatie met die geëksploiteerdes. Waar Degas se werk met dieselfde titel die rustige voorkoms van genre het, lê Picasso eerder klem op die patos van armoede deur middel van die verskerpte gesig, oordrewe geboë figuur en die grys-blou melankoliese kleurskema. Al strook die oordrewe sentiment met wat ons soetsappig sal noem, mag die blou periode van Picasso nie minag word nie. Dit was uit die hart geskilder en  wys die insig in menslike lyding wat  van Picasso ‘n sterk ekspressionis sou maak met hoogtepunte soos GUERNICA 1937 .

Picasso Die Akrobaat se Familie met 'n Aap 
collage, gouache, watercolor, pastel en Indiese ink op karton
104 x 75 cm, Göteborgs Konstmuseum, Goteburg

In die rustiger ROOSPERIODE maak patos en melankolie plek vir ‘n sagte klassieke skoonheid. Die invloed van Griekse witagtergrond vase kan aan die ligte veeg-agtige skilderstyl gesien word. LA TOILETTE bestaan uit twee figure in klassieke Doriese proporsies en die tipe intieme huislike toneel wat witagtergrond vase gekenmerk het. Die Renaissance se sacred and profane love-temas word  in hierdie werk herroep met èèn geklede en èèn naak figuur. In LA TOILETTE heers daar ‘n uitdrukking van harmonie en tydloosheid wat selfs  Picasso se hoog akedemiese tydgenoot Puvis de Chavannes nie kon bereik nie. In die narre en harlekyne van diè tydperk beoefen Picasso die verlenging en hoekigheid van El Greco en die tekenkwaliteit van Ingres.

Picasso: Portret van Gertrude Stein 1906-7
81.3cm - 100cm
Metropolitan Museum of Art, New York

Omstreeks 1906 maak Picasso met Iberiese werk in die Louvre en Afrika beeldhouwerk in die Trocadero kennis. Sy werk word met ‘n gevoel van soliede massa, sterk reliëf en ‘n fassetering in hoekige vlakke gekenmerk. In ‘n poging om Picasso te kompartementaliseer word daar na dikwels na DIE AFRIKA PERIODE verwys. PORTRET VAN GERTRUDE STEIN  (haar gesig en hande vul die formaat soos die Mona Lisa) wys dat Picasso nie slegs visueel nie, maar ook emosioneel teenoor die primitivisme reageer . Daar is besondere oordrewing van detail in die gesig. Die wangbene, oë, neus en mond is sterk gebeeldhou soos 'n Afrika masker.

Picasso:Naakfiguur (driade) in die Oerwoud 1908
Olie op doek 108cm x185cm
Hermitage, St Petersburg
NAAKFIGUUR IN DIE OERWOUD het ‘n mistieke vrees-inboesemde teenwoordigheid. In diè werk, sowel as KOP EN SKOUERS VAN ‘n VROU word die format met groteske figure gevul wat groter as die lewe vertoon. Daar word aan die bonatuurlike ekspressie gegee met uitdrukkingslose oë, ongenaakbare mond en hoekige wangbene. Die aanmekaar wenkbrou-tot-neus lyn en die oordrewe kop wat bo gerond en by die ken gepunt is, word nou deel van Picasso se ikonografie. 

Op my volgende geselsie wil ek uitbrei oor die term primitivisme, wat nie slegs op Afrika beelde van toepassing was nie. Kunstenaars was ook beinvloed deur primitief-naiewe skilders, kinderkuns en  images d' epinal. Daarna sal ons verder kyk na die ryk kunsloopbaan van Picasso.

Hier is die skakel na 'n besonder leersame dokumentêre film oor Picasso
There was an error in this gadget