Saturday, October 11, 2014

Kenmerke van Ekspressionisme

 Die  laat-19de eeu en die twintigste eeu sien ‘n wegbreek van die naturalisme van die vorige eeue, en die ontstaan van sterk nuwe tradisies. Een van die sterkste rigtings wat die twintigste eeuse kuns inneem is diè van ekspressionisme. Lyn- en vormdistorsie en arbitrêre kleurgebruik word belangrike stylmiddele waarmee die beeld met evokatiewe krag gelaai word. Omdat die saga van menswees bò die formele oorwegings ( van byvoorbeeld die formalistiese tradisie)  gestel word, ontvang die toeskouer ‘n emosionele boodskap.


Die grootste direkte invloed op twintigste eeuse ekspressionime lê egter by post-impressionisme, d.w.s die werk van Van Gogh en Gauguin en Derain en die Nabi's.  Hulle vlakke, kleure en komposisies maak groot opslae en lei tot nuwe tipes van ekspressie.

Stap met my deur die volgende skilderye en kyk na die vernuwinge wat mens te wagte kan wees.

Teoretisering oor die proses en vraagstukke van kunsskepping. Vergeet van die “oop venster”, is die kunstenaars se leuse. Kuns hoef nie soos ‘n venster te wees waardeur mens tot in die verte kan sien nie.
Pollock Full Fathom Five - Number 8 (detail) 1949.
 oil , enamel and aluminium verf op doek
 Neuberger Museum, State University of New York

 2 Die maak van kuns is dikwels die tema, of ‘n sub-tema van die werk. Die genot wat die kunstenaar in die skilderproses vind kan selfs die enigste doel wees. Kyk na Pollock (hierbo) en 'n latere Monet werk (hieronder). Monet, wat in sy Impressionistiese jare eers atmosferiese diepte in die waterlelie-damme gewys het, gee aan ons in sy latere jare ‘n vlak met getekstureerde verf, sonder ‘n gevoel van wat bo en onder is. Dieselfde beskrywing kan vir die Pollock geld en baie belangrik: die genot van die skilder in die skilderdaad spreek daaruit.


3 Verf alleen is nie meer die voorvereiste vir skilderye nie. Collage-elemente en ander vlyte word met skilderwerk gemeng. In die onderstaande voorbeeld lees ons baie in Picasso se collage. Die letterwerk, die nagemaakte rottang (dis oliekleed met rottang-patroon) en die omranding van tou wat dit laat lyk of die skepping op ‘n skinkbord aangebied word dra alles by om te bevestig dat die werk geen diepte besit nie. So word die toneel verplat en perspektief verban. Die herbevestiging van die twee-dimensionele vlak verklaar aan die toeskouer dat diepte “vals” is. Jy kyk na ‘n plat vlak wat nie iets anders probeer wees nie.


Picasso - Still Life with Chair Caning 1911-12

4  Kleur verkry nuwe funksies in modernistiese kuns. Kleure kan toetredend wees soos in "Die Groen Streep" van Matisse, waar die drie vlakke van groen, pers en oranje die kop vorentoe druk. Deurdat die gesig so te se voor die toeskouer se oe sweef, word perspektief verder uitgesluit.

Matisse The Green Line 2004
5  Onnatuurlike kleure roep ook emosie op. Distorsie van kleur, bv lemmetjiegroen op die gesig hierbo en ander sterk kleure sterk kleure in "Die Groen Streep"  dui op sterk innerlike karakter.  Vergelyk dit ook met Rouault se "Die Ou Koning" waar sterk lyn en kleur op karakter dui.  In teenstelling daarmee is die blou kleure van Picasso se “Man en Vrou in ‘n Kafee”  self-verduidelikend. Dink ook aan die vleeskleure in Rouault se "Voor die Spieel" uit die vorige stuk.

Picasso - Man and Woman in a Cafe -1903


6  Laastens kom ons by lyn as belangrike kunselement in die modernistiese kuns. Ons gaan lyne leer lees: sagte vloeiende lyne vir vroulikheid en rustigheid, en skerp gepunte onrustige lyne vir gevaar. Vir die volgende hoofstuk gaan twee belangrike werke van die vroeg-twintigste eeu vergelyk word na aanleiding van hulle ekspressie.

Kopiereg voorbehou 2014 Marie Theron.
U kan meer oor Matisse lees op Afrikaanse Wiki


2 comments:

There was an error in this gadget