Thursday, January 15, 2015

Oop Venster by Colliore

Matisse: Oop Venster te Colliore 1905
Olie op doek
55.3 cm × 46 cm (21 34 in × 18 18 in)
National Gallery of Art, Washington D.C.

Onthou dat in hierdie nuwe eeu daar nie net op nabootsing van die natuur gefokus word nie, maar ook op die “proses” van kunsmaak

OOP VENSTER BY COLLIORE 1905 is ‘n ikoniese werk wat ‘n ouer styl sowel as ‘n meer modernistiese styl bevat  en dus ‘n oorgangswerk is. Matisse is een van die groot innoveerders van die Twintigste eeu, wat nuwe maniere van kuns beplan uitgedink het.  Hy het beslis sy werke goed deurdink .

Die ekspressie van kalmte wat in Matisse se latere werke tot die toeskouer spreek, manifesteer alreeds in die werk uit die Fauve-tydperk. Hy ontwikkel ook vroeg reeds sy vermoë om elke motief en komposisionele element met betekenis te laai. 

OOP VENSTER BY COLLIORE  toon 'n binnekamer met 'n deur of venster na buite. Oop vensters het dwarsdeur Matisse se lewe een van sy gunsteling-temas gebly. Die werk skep twee werelde. Die eerste is die van die buitewereld en die persepsuele ervaring van water en bote, lewe en aksie, wat in helder Impressionistiese stippels weergegee het. (Matisse se eerste wegbreek van klassieke realisme was juis deur die pointellis Signac se tegniek te gebruik.) Die tweede toneel is die kalm binneruimte van die vertrek, 'n gevoel wat oorgedra word deur die hantering van die vensterraam in bree stroke van koel kleure. Die antitese spreek terselfdertyd ook van die twee kante van Matisse as kunstenaar. Doe buitetoneel weerspieël Matisse se liefde vir komplekse patroonwerk en vir wat die oog kan sien (persepsueel), terwyl die binneruim (konsepsueel) sy sin vir orde wys en sy sin vir ekspressie van 'n emosie of gevoel. Waar die sintuie die buitetoneel waarneem, is daar amper 'n "sesde sintuig" aan die binneruimte aan die werk. Dis hier waar die toeskouer die plek van die kunstenaar aanvoel. Iemand moet tog deur daardie venster kyk! Wie aanskou die toneel vanuit die rustige interieur? Matisse verwys gedurig na kuns en die kunstenaar, soos in DIE ROOI ATELJEE 1909

Die gevolgtrekking is dus dat by OOP VENSTER TE COLLIORE  se buitetoneel aan die tradisie van die negentiende eeu behoort (Monet, Pointelisme)  en die binnetoneel wat konsepsueel is, en ‘n ekspressie van rustigheid bevat, deel van die modernistiese beweging  in kuns is wat in die Twintigste eeu posvat.Die vorms en kleure van OOP VENSTER TE COLLIORE word sorgvuldig balanseer. Die binnetoneel bevat vertikale bane terwyl die buitetoneel in horisontale bane opgedeel is. ‘n  Groot groen strook links word deur ‘n kleiner strook groen  aan die regterkant en veelvuldige groen stippels in die middel herhaal. Dieselfde gebeur met die pers kleur. Die oranje en blou op die vensterraam vind weer in die see en en die bote ‘n weerklank. Deur ‘n kleur met dieselfde intensiteit vir nabye sowel as veraf tonele te gebruik, word die hele toneel na die voorste prentvlak getrek.Lg is nog ‘n strewe van die nuwe generasie van skilders.....om NIE diepte-perspektief met normale metodes uit te beeld nie.

Die lesers sal oplet dat daar nie vlak in hierdie werk is wat “moeg” gewerk is nie. Matisse rebelleer teen klassieke realisme. Hy maak sy merk en los dit so. Dikwels kom mens die versigtige beplanning eers by ontleding van die geheel agter.

Matisse se bekende stelling was dat kuns soos ‘n gemaklike leunstoel moet wees. Die ekspressie waarna hy gestrewe het, was kalmte. Volgende keer kyk ons na een van die mees kalm, meevoerend rustige werke van die eeu, Matisse se ARABIESE KAFEE.

©Marie Theron 2015