Matisse: Oop Venster te Colliore 1905 Olie op doek 55.3 cm × 46 cm (21 3⁄4 in × 18 1⁄8 in) National Gallery of Art, Washington D.C. |
Onthou dat in hierdie nuwe
eeu daar nie net op nabootsing van die natuur gefokus word nie, maar ook op die
“proses” van kunsmaak.
OOP
VENSTER BY
COLLIORE 1905 is ‘n ikoniese werk
wat ‘n ouer styl sowel as ‘n meer modernistiese styl bevat en dus ‘n oorgangswerk is. Matisse is een van
die groot innoveerders van die Twintigste eeu, wat nuwe maniere van kuns beplan
uitgedink het. Hy het beslis sy werke
goed deurdink .
Die ekspressie van kalmte
wat in Matisse se latere werke tot die toeskouer spreek, manifesteer alreeds in
die werk uit die Fauve-tydperk. Hy ontwikkel ook vroeg reeds sy vermoë om elke motief en
komposisionele element met betekenis te laai.
OOP VENSTER BY COLLIORE toon 'n binnekamer met 'n deur of venster na buite. Oop vensters het dwarsdeur Matisse se lewe een van sy gunsteling-temas gebly. Die werk skep twee werelde. Die eerste is die van die buitewereld en die persepsuele ervaring van water en bote, lewe en aksie, wat in helder Impressionistiese stippels weergegee het. (Matisse se eerste wegbreek van klassieke realisme was juis deur die pointellis Signac se tegniek te gebruik.) Die tweede toneel is die kalm binneruimte van die vertrek, 'n gevoel wat oorgedra word deur die hantering van die vensterraam in bree stroke van koel kleure. Die antitese spreek terselfdertyd ook van die twee kante van Matisse as kunstenaar. Doe buitetoneel weerspieël Matisse se liefde vir komplekse patroonwerk en vir wat die oog kan sien (persepsueel), terwyl die binneruim (konsepsueel) sy sin vir orde wys en sy sin vir ekspressie van 'n emosie of gevoel. Waar die sintuie die buitetoneel waarneem, is daar amper 'n "sesde sintuig" aan die binneruimte aan die werk. Dis hier waar die toeskouer die plek van die kunstenaar aanvoel. Iemand moet tog deur daardie venster kyk! Wie aanskou die toneel vanuit die rustige interieur? Matisse verwys gedurig na kuns en die kunstenaar, soos in DIE ROOI ATELJEE 1909
Die gevolgtrekking is dus
dat by OOP VENSTER TE COLLIORE se buitetoneel aan die tradisie van die
negentiende eeu behoort (Monet, Pointelisme)
en die binnetoneel wat konsepsueel is, en ‘n ekspressie van rustigheid bevat,
deel van die modernistiese beweging in kuns
is wat in die Twintigste eeu posvat.Die vorms en kleure van OOP VENSTER TE COLLIORE word
sorgvuldig balanseer. Die binnetoneel bevat vertikale bane terwyl die
buitetoneel in horisontale bane opgedeel is. ‘n Groot groen strook links word deur ‘n kleiner
strook groen aan die regterkant en
veelvuldige groen stippels in die middel herhaal. Dieselfde gebeur met die pers
kleur. Die oranje en blou op die vensterraam vind weer in die see en en die
bote ‘n weerklank. Deur ‘n kleur met dieselfde intensiteit vir nabye sowel as
veraf tonele te gebruik, word die hele toneel na die voorste prentvlak getrek.Lg
is nog ‘n strewe van die nuwe generasie van skilders.....om NIE diepte-perspektief
met normale metodes uit te beeld nie.
Die lesers sal oplet dat
daar nie vlak in hierdie werk is wat “moeg” gewerk is nie. Matisse rebelleer
teen klassieke realisme. Hy maak sy merk en los dit so. Dikwels kom mens die
versigtige beplanning eers by ontleding van die geheel agter.
Matisse se bekende
stelling was dat kuns soos ‘n gemaklike leunstoel moet wees. Die ekspressie
waarna hy gestrewe het, was kalmte. Volgende keer kyk ons na een van die mees
kalm, meevoerend rustige werke van die eeu, Matisse se ARABIESE KAFEE.
©Marie Theron 2015