Ek het nogal lank gekou oor hierdie vraag: Wie was die
belangrikste, mees innoverende
kunstenaars van die 20ste eeu. My kandidate moes so wees, dat as mens een pen
uittrek, die geheel sal platval, want 'n hele reeks goed sou vanwee hulle afwesigheid nooit gebeur het nie. My keuse het geval op Matisse,
Picasso, Kandinsky en Duchamp. Ons kan hulle bedank of verwens, maar hulle rigting-aanduidende invloed was reusagtig. Hulle was op die voorfront van vernuwing.
Terug na ons tema: ekspressionisme! Die moderne kuns
sal ondenkbaar sonder die bydrae van Picasso wees. Hy het ‘n bydrae tot die
meeste kunsbewegings gelewer, en was in baie gevalle die instigeerder van nuwe
rigtings. Picasso was van sy jongste dae in Parys reeds in staat tot die
uitdrukking van vele emosies.
Picasso: Die Einde van die Pad 1898-9 Olie was en Conte Kryt op papier Solomon Guggenheim Museum, New York |
In 1900 arriveer
Picasso in Parys. Die sogenaamde BLOU PERIODE staan in sy oorgangstydperk van
simbolisme na ekspressionisme en formalisme. Dit is sy brandarm jare en hy is
met lyding behep. DIE EINDE VAN DIE PAD
1898 dui op die soort oordrewe simbolisme wat ‘n tipiese jong kunstenaar
van daardie era sou aanhang. Geboë arm mense beklim ‘n pad na ‘n hek waar die
doodsengel wag. Die ryk mense stuur op dieselfde katastrofe af, maar in
stylvolle koetse. Die verlengde figure wys die invloed van El Greco. Die
ekspressie en moralisering is ‘n produk van Picasso se sosialistiese
sentimente. Die laat negentiende eeuse simbolisme spreek sterk uit die werk.
Picasso: Vrou wat stryk 1901-4 Solomon Guggenheim Museum, New York |
VROU WAT STRYK
is weereens vol simpatie met die
geëksploiteerdes. Waar Degas se werk met dieselfde titel die rustige voorkoms
van genre het, lê Picasso eerder klem op die patos van armoede deur middel van
die verskerpte gesig, oordrewe geboë figuur en die grys-blou melankoliese kleurskema. Al
strook die oordrewe sentiment met wat ons soetsappig sal noem, mag die blou
periode van Picasso nie minag word nie. Dit was uit die hart geskilder en wys die insig in menslike lyding wat van Picasso ‘n sterk ekspressionis sou maak
met hoogtepunte soos GUERNICA 1937 .
Picasso Die Akrobaat se Familie met 'n Aap
collage, gouache, watercolor, pastel en Indiese ink op karton
|
In
die rustiger ROOSPERIODE maak patos
en melankolie plek vir ‘n sagte klassieke skoonheid. Die invloed van Griekse
witagtergrond vase kan aan die ligte veeg-agtige skilderstyl gesien word. LA TOILETTE bestaan uit twee figure in klassieke
Doriese proporsies en die tipe intieme huislike toneel wat witagtergrond vase
gekenmerk het. Die Renaissance se sacred
and profane love-temas word in
hierdie werk herroep met èèn geklede en èèn naak figuur. In LA TOILETTE heers daar ‘n uitdrukking
van harmonie en tydloosheid wat selfs Picasso
se hoog akedemiese tydgenoot Puvis de Chavannes nie kon bereik nie. In die
narre en harlekyne van diè tydperk beoefen Picasso die verlenging en hoekigheid
van El Greco en die tekenkwaliteit van Ingres.
Picasso: Portret van Gertrude Stein 1906-7 81.3cm - 100cm Metropolitan Museum of Art, New York |
Omstreeks
1906 maak Picasso met Iberiese werk in die Louvre en Afrika beeldhouwerk in die
Trocadero kennis. Sy werk word met ‘n gevoel van soliede massa, sterk reliëf en
‘n fassetering in hoekige vlakke gekenmerk. In ‘n poging om Picasso te
kompartementaliseer word daar na dikwels na DIE AFRIKA PERIODE verwys. PORTRET VAN GERTRUDE STEIN (haar gesig en hande vul die formaat soos die Mona Lisa) wys dat Picasso nie slegs visueel nie, maar ook emosioneel teenoor die
primitivisme reageer . Daar is besondere oordrewing van detail in die gesig.
Die wangbene, oë, neus en mond is sterk gebeeldhou soos 'n Afrika masker.
Picasso:Naakfiguur (driade) in die Oerwoud 1908 Olie op doek 108cm x185cm Hermitage, St Petersburg |
NAAKFIGUUR IN DIE OERWOUD
het ‘n mistieke vrees-inboesemde teenwoordigheid. In diè werk, sowel as KOP EN SKOUERS VAN ‘n VROU word die
format met groteske figure gevul wat groter as die lewe vertoon. Daar word aan
die bonatuurlike ekspressie gegee met uitdrukkingslose oë, ongenaakbare mond en
hoekige wangbene. Die aanmekaar wenkbrou-tot-neus lyn en die oordrewe kop wat
bo gerond en by die ken gepunt is, word nou deel van Picasso se ikonografie.
Hier is die skakel na 'n besonder leersame dokumentêre film oor Picasso